Jongste nuus oor studente-optrede by die Noordwes-Universiteit se kampusse
Studente-onrus woed steeds op verskeie plekke in die land, maar alles is tans rustig by die Noordwes-Universiteit se Vaaldriehoek- en Potchefstroomkampusse.
Die Universiteit het pas hierdie inligting vrygestel (14-10-2016):
Daar het gister geen insidente op die Potchefstroom- en Vaaldriehoekkampus plaasgevind nie en klasse gaan normaal voort.
Gewelddadige botsings tussen opstandige studente en veiligheidsmagte het egter deurgaans gister op die Mafikengkampus voortgeduur. Polisie-teenwoordigheid is as gevolg van hierdie onbestendige situasie op die kampus verhoog. Bestuur se eerste prioriteit was om alle geboue te beveilig om grootskaalse skade te voorkom. Met die hulp van die veiligheidsmagte is in hierdie doel geslaag en is slegs minimale skade in die vorm van gebreekte vensters aangerig. Voertuie wat op die perseel geparkeer was, is ook beskadig toe studente die sekuriteitsmagte met klippe bestook het. Pogings tot brandstigting, veral gedurende laasnag, is ook deur die veiligheidsmagte verhoed.
Die benadering om geen verdere ontwrigting te duld nie, het tot die arrestasie van meer as 60 individue gelei. In hierdie stadium kan nog nie bevestig word of al die gearresteerdes wel studente is nie. Bestuur bly daartoe verbind om alles in hulle vermoë te doen om die kampus weer te stabiliseer en om ‘n veilige omgewing vir personeel en studente te verseker. Met die samewerking van alle belanghebbers kan ons steeds die 2016 akademiese jaar suksesvol op hierdie kampus afhandel.
Alhoewel personeel gister gevra is om vir hulle eie veiligheid die Mafikeng-kampus te verlaat, is klasse nog nie opgeskort nie. Die gradeplegtighede wat vir vandag en môre geskeduleer is, sal buite die kampus voortgesit word en omvattende gebeurlikheidsplanne is in plek om die plegtighede te beveilig.
Klasse by die Potchefstroom- en Vaaldriehoekkampus gaan normaal voort.
Die gewelddadige aksies deur studente word in die sterkste moontlike terme veroordeel, en met die bystand van die polisie, ander veiligheidsmagte, asook personeel en studente wat verbind is tot die NWU en dit waarvoor die universiteit staan, sal ons vorentoe beweeg.



