Jongste nuus oor studente-voorval by NWU Vaal
Bedrywighede by die NWU Vaal is tot dusver terug na normaal na 'n voorval vroeg vanoggend toe klein groepies protesterende studente het albei ingange na die kampus met brandende bande versper het.
Klein groepies protesterende studente het vanoggend (14-10-2016, om en by 08:00) albei ingange na die Vaaldriehoekkampus van die NWU met brandende bande versper. Polisie het die groepe met rubberrondtes uitmekaar gejaag, maar die studente het weer op ‘n oop stuk veld oorkant die hoofingang na die kampus hergroepeer, het ‘n woordvoerder van die universiteit pas aan Vaalweekblad gesê. Die hoofpad na die kampus was ‘n ruk lank gesluit maar is intussen heropen, en klasse gaan sover voort.
Klasse op die Potchefstroomkampus gaan soos normaal voort. Alle studente van die universiteit is gister in kennis gestel dat die komende eksamen op die Mafikeng- en Vaaldriehoekkampus met ‘n week uitgestel is in ‘n poging om die 2016 akademiese jaar te red. Eksamens op die Potchefstroomkampus gaan soos beplan voort, en die tweede eksamengeleentheid vir alle NWU-studente is met drie dae aangeskuif.
“Selfs onder hierdie moeilike en uitdagende omstandighede bly bestuur daartoe verbind om die situasie op die Mafikengkampus te normaliseer om studente en personeel toe te laat om in ‘n veilige omgewing met die akademiese program voort te gaan.
Ons het begrip vir die ongerief en trauma wat beide personeel en studente ervaar as gevolg van hierdie opruiende en gelweldadige groepe. Ons moedig personeel en studente aan om by NWU Welstand vir berading aan te klop,” sê die Universiteit in ‘n mediaverklaring.



