News

Amputeer asseblief my been, pleit verlamde

Nadat 'n Vanderbijlparkse parapleeg, mnr. Adriaan Roux, by 'n staatshospitaal van 'n bed laat val en sy been gebreek is, kry hy geen verdere hulp nie, terwyl sy bedsere by die dag vererger. Hy pleit nou dat sy gebreekte been afgesit moet word.

//

Retha Fitchat
VANDERBIJLPARK. – Dit was die jaar 1984. Vir die jong Vaaldriehoekse dienspligtige, Adriaan Roux, het die lewe blink vir hom gewink. Dit was totdat ‘n motorfietsongeluk in Voortrekkerhoogte hom van net onder die arms af verlam gelaat het.
“Ek was die dag op my motorfiets op pad bank toe, toe die voorwiel om ‘n draai bars en ek teen ‘n boom vasgery het. Terwyl ek semi-bewusteloos daar gelê het, het ek klaar geweet iets baie ernstig het skeefgeloop,” onthou hy.
Adriaan, toe 22, het besef dat daar ‘n moeilike lewe op hom as verlamde wag. Genadiglik het hy daardie tyd nog nie besef hóé moeilik nie. Gelukkig sou hy kon staatmaak op lewenslange mediese hulp van die Weermag. Behandeling by staatshospitale, veral by 1 Militêr, was destyds nog uitstekend.
Vandag het die situasie heeltemal verander. Adriaan is nou 54 en lê permanent vasgekluister in sy bed in Pioneer House. Sy grootste wens is lankal nie meer om weer te kan opstaan en loop nie. Al waarvoor hy wens is dat sy verlamde regterbeen geamputeer kan word sodat die aanhoudende infeksies wat hom koorsaanvalle gee, kan ophou.
“Dit het begin toe ek verlede jaar Desember ‘n bedseer op die regterboud ontwikkel het, maar daar was skielik probleme met my Weermag-medies. Na ‘n hengse gesukkel het hulle gesê ek moet na my naaste staatshospitaal gaan: Sebokeng.
“Dit was nie ‘n goeie plan nie. Hulle het my van die hospitaalbed af laat val en my femur regs bo, is sleg gebreek – amper in die heup. My vriendin Rita Jansen van Rensburg is toe saam met my na 1 Militêr, waar ek na ‘n groot bakleiery om my medies reg te kry, opgeneem is. Hulle het my bedsere versorg maar niks aan die gebreekte been gedoen nie. My bedsere het mooi reggekom, totdat iemand die suur waarmee dit skoongemaak moes word, te sterk aangemaak en my erg verbrand het.
“Vanaf Maart vanjaar is ek in en uit die hospitaal. Die bedsere is weer baie erg en die onbehandelde gebreekte been veroorsaak blykbaar infeksies wat my hele liggaam vergiftig. Ek voel geen pyn daar nie, maar die hele been swel geweldig en daar kom liters vog uit wat gereeld gedreineer moet word. ‘n Wondsuster besoek my gereeld, maar die situasie raak al erger en ek kry koorsaanvalle.
“Ek was intussen weer by die hospitaal waar hulle drie weke gelede gesê het die been sal geamputeer moet word en dat ek ‘n kolostomie-sakkie gaan kry. Verlede week is ek terug hospitaal toe waar die finale besluit oor die operasie geneem sou word. Die antwoord was dat die operasie te groot is en dat hulle niks meer vir my kan doen nie. Een van die dokters het onsimpatiek vir my gesê: ‘You’re gonna die’. Ek is sonder enige hoop teruggestuur huis toe.”
Weens staatshospitale se finansiële probleme kan Adriaan ook nie meer gereeld die wondbedekking en medikasie by 1 Militêr kry soos in die verlede nie.
“Al wat ek vra is dat my been geamputeer moet word. Dit is my enigste hoop om uit hierdie beproewing te kom,” pleit hy.
* ‘n Video wat Adriaan se wonde toon, sowel as ‘n proses waartydens liters etter uit die wonde verwyder word, is op www.vaalweekblad.com te sien. Let wel, dit is uiters grafies en kan sensitiewe kykers ontstel. Aptekers of enigiemand wat kans sien om medikasie of wondbedekking te skenk, is welkom om Adriaan of Rita te skakel by 072 850 5898 of 063 249 8625.
Adriaan se gebreekte femur is duidelik sigbaar op dié x-straalplaat.
Adriaan se gebreekte femur is duidelik sigbaar op dié x-straalplaat.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button