Chris maak lang verwagte terugkeer
Ettienne van Rensburg Na ‘n afwesigheid van drie jaar maak Chris The Heat van Heerden Saterdagaand in Johannesburg sy lang verwagte terugkeer tot ‘n bokskryt in Suid-Afrika. Die boorling van Meyerton het die afgelope paar jaar vir homself in Amerika ‘n naam gemaak. Hy kom Saterdagaand by Emperors Palace in Kempton Park teen die hotklou …

Ettienne van Rensburg
Na ‘n afwesigheid van drie jaar maak Chris The Heat van Heerden Saterdagaand in Johannesburg sy lang verwagte terugkeer tot ‘n bokskryt in Suid-Afrika.
Die boorling van Meyerton het die afgelope paar jaar vir homself in Amerika ‘n naam gemaak. Hy kom Saterdagaand by Emperors Palace in Kempton Park teen die hotklou Namibiër Sacky Shikukutu (22-3-1) om die vakante WBA Pan African Weltergewigtitel te staan.
Chris, ‘n voormalige IBO Wêreld Weltergewigkampioen, het vyf van sy ses gevegte in Amerika gewen. Sy talent is vinnig deur die legendariese boksafrigter Freddie Roach raakgesien toe hy teen Miguel Cotto geskerm het.
Na sy nederlaag teen Errol Spence jnr. wou dit voorkom asof die deure in sy gesig toegemaak het, maar Amerika staan nie verniet as die Land van Geleenthede bekend nie. Met sy werksetiek en geoeie ingesteldheid het verskeie geleenthede homself daarna voorgedoen. Hy het onder meer teen die bekende MMA-vegter Conor McGregor geskerm, waarna sy bekendheid ‘n verdere hupstoot gekry het.
Golden Gloves Suid-Afrika het Chris (24-2-1) daarna genader om in Suid-Afrika teen Paul Kamanga te veg. Weens uiteenlopende redes het die geveg deur die mat geval en Shikukutu het daarna ingestem om teen die voormalige IBO-kampioen te boks. In sy geveg onlangs om die WBO Afrika belt het Izinyoka soos hy bekendstaan vir Jason Bedeman ‘n boksles gegee. Hy het ook twee jaar gelede net-net teen Frankie Gavin om die Statebondtitel verloor.
“Ek weet dit gaan nie ‘n maklike geveg wees nie, maar ek is fisies en geestelik gereed. Ek dink sake gaan die eerste helfte van die geveg gelykop wees, maar daarna gaan my ervaring die skaal in my guns swaai. Ek sal goed moet beweeg in die kryt en my jab en reach moet gebruik,” sê hy.
Hoewel hy brand om weer voor sy hartsmense te boks, is die boorling van die Vaaldriehoek egter salig bewus van die hoë verwagtinge wat die toeskouers vir hom koester.
“Ek is so opgewonde om weer voor my tuisskare te boks. Ek wil myself net weer geniet in die kryt. Daar is baie druk op my, want die mense verwag ‘n groot vertoning, maar ek weet dit gaan die beste uit my bring,” het hy aan die vooraand van die geveg aan Vaalweekblad gesê.
Die geveg is die hoofvoorgeveg vir die hoofgeveg tussen Kevin Lerena en Micki Bielsen wat ook regstreeks op Supersport 7 20:00 tot laat uitgesaai word. Die ander voorgevegte is: Siyabongo Siyo teen Hekkie Budler; DeeJay Kriel,teen Nyelasani Thagambege en Nathan Hammond teen Zamehlo Dludu.




