Local newsNews

Ironie én vreugde te midde van onrus

Vaalweekblad 19 Oktober - Redaksionele kommentaar

Retha Fitchat

Oproermakers het Maandag 17 Oktober daarin geslaag om ‘n toetssessie by die NWU Vaal tydelik te ontwrig toe hulle by ‘n eksamenlokaal ingebars en die studente uit die lokaal forseer het.

Vaalweekblad kon nie help om die ironie in die situasie raak te sien nie. Die toets waarmee die studente besig was, was Fundamentele Regte. Dit is presies dié soort regte van hardwerkende studente wat deur die boelies vertrap word.

Dat ‘n klein groepie opstokers dit kon regkry om ‘n belangrike toetssessie te onderbreek, is ‘n jammerte, maar die orde is binne 15 minute herstel en die studente kon hul toets onder toesig van die polisie afhandel. Nie ideaal nie, maar dit gee mens tog stof tot dankbaarheid dat die universiteit en meerderheid studente hulle nie laat onderkry het nie en teruggekom het om die toets te voltooi.

Op Saterdag 15 Oktober het Vaalweekblad ook ‘n ander sukses by die universiteit sien afspeel.
Ondanks die afgelope weke se studente-onrus is die NWU Vaal se opwindende GeeXpo deur groot groepe skoolkinders op die kampus bygewoon.
Vir dié wat nie weet nie, GeeXpo is ‘n jaarlikse byeenkoms op die kampus waar skoolkinders meer kan uitvind oor rekenaarwetenskap, informasiestelsels en ingenieurswese – dit is studievelde waaraan daar seker oral ter wêreld, maar veral in Afrika, ‘n voortdurende tekort is.
GeeXpo vorm deel van die universiteit se projekte om ‘n liefde vir wiskunde en wetenskap onder jongmense te bevorder.
Volgens Daleen Gerber, direkteur van die NWU Vaal se Skool vir Inligtingstegnologie, open geleenthede soos GeeXpo nuwe vistas vir skoolkinders. Dit kan hulle onder meer help om toegang tot verdere opleidingsgeleenthede te kry.

Gerber is van mening dat baie skoolkinders steeds te min selfvertroue het waar dit by wiskunde en wetenskap kom, omdat hulle vrees dat hierdie “moeilike” vakke gaan maak dat hulle hul kursusse druip. Geleenthede soos GeeXpo motiveer jongmense en maak hulle opgewonde oor wat hulle te wagte kan wees as hulle wiskunde en wetenskap deel van hul curricula maak.

As ‘n instituut vir hoër opleiding doen die NWU Vaal met geleenthede soos GeeXpo sy deel om te help bou aan ‘n kultuur. ‘n Gemeenskap wat wiskunde en wetenskap na waarde ag as die hoofboustene in persoonlike sowel as gemeenskaplike vooruitgang, is op die wenpad.

Dit was Saterdag duidelik dat kinders van alle rasse die moderne tegnologie ewe veel geniet. Daar was nie blou, bruin, grys of groen oë nie. Daar was net blink oë, en blink oë skitter almal in dieselfde kleur. Wat ‘n jammerte dat ‘n klein groepie moeilikheidmakers hulself en duisende medestudente sulke plesierige voorregte wil ontsê. As die moeilikheidmakers dit maar net self kon beleef.
Laat die studente wat wil terugkeer na honderde jare gelede se tegnologie-vrye wêreld maar in hul tydmasjiene klim en teruggaan na daardie era. Hulle moet net onthou om hul i-pads, rekenaars en selfone hier agter te laat vir studente wat dit goed kan benut om die toekoms suksesvol tegemoet te gaan.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button