
Dit is in 1969 deur mev. June Nicholls gestig en funksioneer steeds suksesvol in die Vaal.
Die skool is ‘n geregistreerde nie-winsgewende organisasie en is gelisensieer deur die Departement van Gesondheid en geregistreer by die Departement van Onderwys as ‘n onafhanklike skool vir kinders met spesiale behoeftes.
“Ons beskik oor Artikel 18A status wat donateurs toelaat om belastingkorting op hul bydraes aan die skool te eis,” verduidelik mev. Tilly van Schalkwyk, uitvoerende bestuurder. Die skool is uiters afhanklik van donateurs om te kan oorleef.
Daar is tans 27 kinders wat die skool bywoon. Die kinders kom van regoor die Vaal tot van so ver as Orange Farm en hul ouderdomme wissel van 4 tot 26 jaar.
Die kinders word volgens hul vaardigheidsvlak in drie klasse ingedeel. Hul daaglikse aktiwiteite word volgens ‘n vasgestelde program, wat aangepas is om in elke klas se behoeftes te voorsien, aangebied.
“Ons neem die kinders ten minste een maal per kwartaal op ‘n uitstappie na bv. die dieretuin by Emerald Resort & Casino, Kariba Ranch of die Ekopark.
“Ons sorg dat daar genoeg vermaak vir die leerlinge is,” sê Tilly.
Hulle bied ook vermaak aan die kinders deur middel van ‘n poppekas. Die kinders word daagliks ook van ‘n ligte, voedsame ete voorsien.
“Ons neem jaarliks deel aan die Special Olympics wat deur Eureka Skool in Vereeniging gereël word en op die perseel van Pick n Pay in Bedworthpark aangebied word. Dit is ‘n hoogtepunt vir die leerlinge,” sê Tilly.
Volgens haar is een van die redes waarom die skool so gewild is en sukses met die leerlinge behaal, te danke aan die ongelooflike bestuurspan wat deur hul toewyding die belange van die skool en van elke kind op die hart dra.
“Ons ontvang daagliks wonderlike genade en seën van Bo, maar die ongereelde betaling van die subsidie en ook die swak ekonomiese toestand waaronder ons land gebuk gaan, veroorsaak dat ons werklik finansieel sukkel om die mas op te kom.
“Ons grootste uitdaging tans is om die voedingskema in stand te hou en om ons lopende uitgawes soos veral brandstof vir die twee bussies waarmee die kinders van en na die skool vervoer word te dek,” sê Tilly.
Enige hulp van persone of ondernemings wat die skool kan ondersteun sodat hulle die diens aan die kinders kan volhou, sal hoog op prys gestel word.
“Help ons asseblief om die lewe vir die 27 kinders wat in ons sorg is en wat fisiek en intellektueel gestrem is, ‘n klein bietjie gemakliker en aangenamer te maak,” sê Tilly.
* Bankbesonderhede:
Rekeninghouer: Vaal Triangle Cerebral Palsy, Standard Bank, rekeningnommer: 02 186 7550, takkode: 014 737.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!





