
Du Preez Uitspraak – Dag 14 Berig 1
Let wel: Hierdie artikel is nie in storie vorm nie aangesien dit die werklike weergawe van die verloop in die hof is. Dit mag by tye deurmekaar lyk aangesien die onderwerp van bespreking gedurig in die hof verander.
VEREENIGING. – Vandag lewer regter Hennie de Vos in die Streeks Hooggeregshof in Vereeniging uitspraak oor die gesinsmoordsaak van Fanie du Preez (40). Du Preez is reeds vir 11 maande in aanhouding in die Leeuhof gevangenis.
So verloop die oggend in die hof
09:57 – Die hof is byna gereed om te begin. Familie en vriende van beide Du Preez en sy oorlede vrou Thea is in die hof teenwoordig.
10:00 – Regter Hennie de Vos lees die dokumente aan die hof voor. Du Preez staan tereg op drie aanklagtes van moord, twee aanklagtes vir die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie en een aanklagte van regsverydeling.
Du Preez het skuldig gepleit op die een aanklag vir die onwettige besit van ‘n vuurwapen. Dit is die 9mm-pistool. Op al die ander aanklagtes pleit hy egter onskuldig. Regter De Vos lees aan die hof voor oor die verskillende vuurwapens wat in Du Preez se besit was.
Bewysstukke dui daarop dat al drie oorledenes in hul kop geskiet is. Regter De Vos meen dit is insiggewend .
Daar is 256 foto’s geneem en saam met die sketsplan as bewysstuk A ingedien.
Alle items wat op die toneel gevind is, is verpak en geseël en vir forensiese ondersoek en ontleding gestuur. Slegs die oliefiltreerder is in ‘n kussing in Phillip se kamer die volgende dag deur ao. Alberts gekry.
10:19 – Regter De Vos lees aan die hof die verskillende klagtes en brei uit op elkeen. Hy noem onder meer die beserings wat Thea, Carlia en Phillip opgedoen het en wat die nadoodse ondersoek bevestig het. Foto’s dui aan dat Carlia beweeg het toe sy geskiet is. Phillip is slegs een keer geskiet. Die projektiel het sy brein deurboor en hy is dood.
Regter De Vos bespreek die sketsplan van die woning asook presies waar die dakluik is waar die vuurwapens en twee paar handskoene gekry is. Die vuurwapens is dié waarmee Thea, Carlia en Phillip geskiet is. Daar is ook buskruit oorskot (resudie) op die handskoene gevind.
Die skuifdeure by die woning speel ‘n groot rol in die saak aangesien die verdediging gesê het die booswigte het toegang tot die huis deur die skuifdeur gekry en later ook weer daar uit is.
Regter De Vos gee ‘n oorsig van al die getuienisse wat in die saak getuig het en wat tot dusver in die hof gesê is voor hy sy uitspraak sal lewer.



