BlogsLocal newsNewsOpinions
Vaal is slagoffer van voetsleep-werk
Die Vaaldriehoek se water-infrastruktuur ly skynbaar onder verkeerde regeringsbesluite en onbekwame kontrakteurs
//
Water is tans een van die groot gesprekspunte in die land. Om braaivleisvure en in raadskamers van groot sakeondernemings word die dalende vlak van ons land se damme met groot kommer bespreek.
Dit is nie net die droogte en die son wat ons kosbare water deur verdamping laat verdwyn nie. Kiloliters water wat Rand Water honderde miljoene rand per jaar kos, gaan ook verlore weens gehawende pype wat lankal vervang moes gewees het.
Dit blyk nou dat kundige personeel van Rand Water die wil en die fondse het om die ou infrastruktuur te vervang, maar iewers langs die pad verdwyn die geld saam met ons water en saam met die kundiges se goeie intensies.
In ‘n diepte-ondersoek wat pas deur verslaggewer Sipho Masondo vir Vaalweekblad se susterskoerant, City Press gedoen is, is gevind dat die Vaaldriehoek se waternetwerk een van die grootste slagoffers van onbeskryflike onbekwaamheid is. Miljarde rand se werk, waarvoor Rand Water in sommige gevalle blykbaar reeds betaal het, lê jare na die sperdatums nog onafgehandel.
Om net ‘n paar voorbeelde te noem:
* Rand Water moet R371 miljoen betaal vir ‘n waterpypleiding van 11 km in die Vaaldriehoek. Die projek moes in 2014 voltooi gewees het, maar is steeds aan die gang en gaan uiteindelik R100 miljoen meer kos as die aanvanklike kwotasie.
* ‘n Projek van R490 miljoen om ‘n enjinkamer en reservoir by die Zuikerbosch-pompstasie in Vereeniging te bou, het nog nie begin nie. Die voltooiingsdatum is in 2018 maar gaan waarskynlik aangeskuif word na 2020 op die gouste.
* ‘n R151-miljoen kontrak om vier elektriese motors by ‘n pompstasie in Meyersdal, Midvaal te installeer, staan stil ondanks die feit dat dit reeds 21 maande gelede voltooi moes gewees het. Na bewering het Rand Water reeds R145 miljoen vooruit betaal hiervoor. Dit, ondanks die feit dat die Openbare Finansiële Bestuurs-wet sulke vooruitbetalings uitdruklik verbied.
Werk aan die veelbesproke Vaal-pypleiding het in Julie 2013 begin en moes 18 maande later, teen Januarie 2015, voltooi gewees het. Dit is vandag steeds onvoltooid, met ‘n nuwe sperdatum wat nou vir Mei 2017 vasgestel is.
Wat die publiek graag wil weet, is waarom soveel miljarde rand se tenders toegeken is aan relatief klein kontrakteurs wat nie juis ‘n bewese suksesgeskiedenis in die ingenieursbedryf het nie.
Ons sal graag wil weet of ons minister van waterwese en sanitasie, Nomvula Mokonyane, enige persoonlike lojaliteite aan van die kontrakteurs het en gaan kontrakteurs gepenaliseer word oor hul voetsleep-werk? Laastens sal ons graag wil weet waarom vooruitbetalings – strydig met wetgewing – glo aan sulke ondernemings gedoen is.
Rand Water se woordvoerder, Justice Mohale, het by navraag aan die media gesê daar is goeie verduidelikings vir al die agterstallige werk en ontken heftig dat enige vooruitbetalings gemaak is. Ons is so bly om dit te hoor, maar ons sal nog meer dankbaar wees as die werk nou deeglik, binne die vasgestelde spertye en sonder bykomende koste vir belastingbetalers afgehandel word. – rfichat@media24.com
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!



