News

Nuuskommentaar: Van Trump Tower na Trump State

Die ontledings oor hoekom die meeste meningspeilings oor die uitslae so hopeloos verkeerd was, gaan nog lank duur, sê politieke ontleder Herman Toerien

Herman Toerien, bekende politieke ontleder, deel sy mening met Vaalweekblad oor die effek wat Donald Trump se verkiesing tot Amerikaanse president, op die wêreld en Suid-Afrika gaan hê:

Dit is hopeloos voortydig om te probeer voorspel hoe suksesvol Donald Trump se presidentskap sal wees. Talle realiteite laat dikwels verkiesingsbeloftes in die slag bly, en dit kan ’n groot verskil maak.

Dit is net ’n baie dom, of baie dapper persoon wat nou enige ontledende voorspelling van Donald Trump se komende presidentskap sal probeer maak. Bitter min verkose presidente kon hulle immers volledig by hul verkiesingsbeloftes hou na hulle in hierdie ampte die eerste keer toegang tot geheime intelligensieverslae gekry het, en deur kundiges op feitlik elke terrein as adviseurs bygestaan is. Realiteite soos die ampseed wat hom dwing om in algemene belang te regeer, laat ook dikwels verkiesingsbeloftes in die slag bly.

Markte neig om op die onverwagse te reageer, en soos na die Brexit-referendum het dit waarskynlik ook nou gebeur, net op ’n groter skaal, skryf die ekonoom Kees Bruggemans. Wanneer die markte oor die skok kom, kan dit selfs lonende kopies bied.

Kort voor die verkiesing het Rasmussen in ’n peiling bevind dat anders as in die verlede, kiesers dié keer hulle meer laat lei het deur omstredenhede as die kandidate se beleidsrigtings. Die kandidaat se karakter het ook nie vanjaar ’n groot rol by kiesers gespeel nie.

Een van die interessantste vooraf-ontledings is gedoen deur Thomas Sowell. As swart Amerikaner sou verwag kon word dat hy sou neig om Hillary Clinton te steun, maar hy sê dat hulle (hy self ingesluit) wat gewalg is deur Trump se sêgoed moet onthou dat Trump ook nie teen Moeder Theresa te staan gekom het nie. Sowell slinger Clinton dit veral teen die kop dat sy as minister van buitelandse sake twee regerings wat geen bedreiging hoegenaamd teen die VSA ingehou het nie, help verwoes het. Hy verwys na Egipte en Libië. Nie almal sal met Sowell hieroor saamstem nie, maar wel oor ander sake wat hy noem.

Nietemin, die ontledings oor hoekom die meeste meningspeilings so hopeloos verkeerd was, gaan nog lank duur.

Trouens, Rasmussen, wat feitlik deurlopend Trump se kanse beter gereken het as die meeste ander peilings, het op die vooraand van die verkiesing ’n omvattende artikel geplaas oor hoekom peilings so verkeerd was. Een van die belangrike faktore is die wegkwyn van die landlyn-telefoon wat lank as standvastige peilingsinstrument gedien het. En toe: “Along comes the craziest election most of us have ever seen.”

Dit alles werp egter min lig oor op hoe dit Suid-Afrika gaan raak. Die verwagting is dat die nuwe administrasie hom weinig aan Suid-Afrika sal steur, tensy die Suid-Afrikaanse regering gaan skoor soek.

As deel van Afrika, maar veral as deel van die wêreld, sal Suid-Afrika egter ’n deeglike belang hê oor of die VSA ekonomies sterker gaan word en die wêreldekonomie saam lig.

En dit is iets wat gesien sal moet word.
Foto: Politieke ontleder Herman Toerien.

 

.

herman-toerien

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button