LifestyleNews

Pasop voor jy dieselfde fout maak!

'n Kenner gesels by die "Alleengroep" - 'n ondersteuningsgroep vir enkellopendes - oor gebroke verhoudings en hoe mens die pad na genesing kan begin stap.

Retha Fitchat
‘n Mislukte verhouding veroorsaak dikwels dat iemand impulsief, sonder om te dink, in ‘n nuwe verhouding betrokke raak.
Die nuwe verhouding word soos ‘n pleister op die seer van die vorige mislukte verhouding geplak, met die hoop dat al die hartseer en ontnugtering vinnig weggetoor kan word.
Die realiteit is egter dat gebroke verhoudings ‘n warboel van onopgeloste, verwarde emosies agterlaat.
Hierdie emosies moet sorgvuldig en objektief erken, bespreek en deurgewerk word indien jy gereed wil wees om met ‘n sinvolle, nuwe verhouding te begin.
Professionele hulp is dikwels nodig om ‘n persoon wat diep trauma ervaar het, te help en by te staan.
As jy nie voldoende bystand en ondersteuning kry nie, kan die gevolge skrikwekkend wees.
Soos ‘n drenkeling gryp die ontwrigte persoon na die eerste persoon wat op die toneel verskyn, raak emosioneel afhanklik van hom of haar, en glo dat hierdie persoon die “redder” is, sonder om hom of haar eers goed te leer ken.
In die Engelse taal word gepraat van ‘n “rebound”-verhouding.
Volgens verhoudingskenners is dit baie belangrik om hierdie tipiese, eg menslike reaksie te verstaan, en te waak teen oorhaastige, ondeurdagte herhaling van dieselfde oordeelsfoute.
Op 19 November kom spreek dr. Kobus Scholtemeyer die Vaaldriehoek se Alleengroep toe oor hierdie netelige onderwerp. Dr. Scholtemeyer is ‘n opvoedkundige sielkundige met jare se ervaring op die gebied van gebroke verhoudings en die probleme wat daarmee gepaard gaan.
Die Alleengroep nooi alle lede sowel as enige ander enkellopendes hartlik uit na hierdie byeenkoms.
Dit vind plaas op Saterdag, 19 November om 14:00 by die Riviera Country Club, Mario Milani-rylaan, Vereeniging. Toegang is gratis.
Nadere besonderhede is beskikbaar by Elsa du Toit by 083 666 8341.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button