Wat om te doen as jou buurman onwettig bou
Prokureurs gee raad oor dié soort tameletjies
Wat is jou regte as jou buurman onwettig bou en jou uitsig belemmer? Die Vaaldriehoekse prokureursfirma De Been & Claasen antwoord ‘n leser se vraag hier onder:
Vraag: “My buurman het onlangs ‘n nuwe dubbelverdieping-uitbreiding aan sy huis bygesit, wat ‘n dramatiese effek op my uitsig het aangesien ek nou vanuit my leefarea direk in die agterkant van sy dubbelverdieping vaskyk. Ek het nie geweet hy gaan aanbou nie en is bekommerd oor hoe dit die waarde van my huis kan beïnvloed. Kan hy sommer net bou soos hy wil?”
Antwoord: Al hoe meer huiseienaars kies om eerder uit te brei of hul huidige tuistes op te knap, as om nuwe eiendom te koop. Ongelukkig pak baie huiseienaars hierdie proses aan sonder om te voldoen aan die toepaslike standaarde en regulasies soos uiteengesit in die Wet op Nasionale Bouregulasies en Boustandaarde 103 van 1977 (“Wet op Boustandaarde”), óf om die nodige toestemming te kry.
Volgens die Wet op Boustandaarde, moet enige planne en spesifikasies van ‘n eiendomseienaar wat te make het met die oprig van geboue en/of strukture, vooraf deur die plaaslike owerheid goedgekeur word. Dié goedkeuringsproses sluit in ‘n omvattende inspeksie van die bouplanne deur die plaaslike owerheid se boubeheer-beampte om te bepaal of daar aan al die hoof- en noodsaaklike vereistes, wette en regulasies voldoen is.
Tydens die goedkeuringsproses het die plaaslike owerheid die diskresie, in terme van artikel 7 van die Wet op Boustandaarde, om ‘n bouplan-aansoek te weier op grond daarvan dat dit die aangrensende eiendomme in die area waar die gebou opgerig sal word, negatief kan affekteer (ontsier), indien die beplande bouwerk onooglik of aanstootlik sal wees, óf as dit afbreuk sal maak aan die waarde van aangrensende- of buureiendomme. Artikel 7 is van uiterste belang omdat dit eiendomseienaars beskerm teen ‘n situasie waar hulle eiendom drasties afneem in waarde weens die bou-aktiwiteite van hul bure.
In jou geval sal ek daarom aanbeveel dat, sou jy vermoed dat jou buurman bou-aktiwiteite onderneem sonder om behoorlik prosedures te volg óf wat ‘n nadelige impak op jou eiendom kan hê, jy met die relevante plaaslike owerheid skakel en só vasstel of die vereiste prosesse gevolg en goedkeuring verkry is. As ‘n buurman nié sy bouplanne vir goedkeuring ingedien het nie, kan hy beboet word of selfs opdrag kry om konstruksiewerk stop te sit en/of enige vordering tot op hede, te sloop. Vir bystand met hierdie proses, mag dit raadsaam wees om jou prokureur te betrek.



