CommunityEntertainmentLifestyleLocal newsNews

Koos kraai koning op 50/50

Vaaldriehoekse fotograaf stap weg met TV-program se groot prys

Elsje Vermeulen
VANDERBIJLPARK. – Die gewilde televisieprogram, 50/50, het vanjaar weer sy gewilde fotokompetisie aangebied en duisende inskrywings is ontvang, maar dit was plaaslike amateurfotograaf Koos Fourie wat met die R100 000 prysgeld weggestap het.
50/50 se Seisoen 7-kompetisie het gestrek van 18 Februarie tot 10 November. Uit al die weeklikse inskrywings is maandwenners gekies. Koos was die Augustus-wenner met sy reeks: Geveg om lewe.
Koos, hoof van die Kliëntediens-afdeling van ArcelorMittal in Vanderbijlpark, is ook die nuut-verkose voorsitter van die Vanderbijlpark Fotografiese Vereniging. Hy het in 2008 by die klub aangesluit en is in 2012 tot onder-voorsitter verkies. Hy tans een van die klub se top 5 Ster-meester brons-fotograwe en word gereeld ingespan as beoordelaar by fotoklubs en by Nasionale Salonne.
Koos is ook deel van die klub se span fotograwe wat in Feb/Maart 2017 ‘n fotografiekursus in die Vaaldriehoek gaan aanbied. Hy sal die Wildslewe-
kategorie hanteer.
Koos se wenfoto is geneem in die (KNP) Kruger Nasionale Park geneem tussen Skukuza en Onder-Sabie tydens ‘n naweekbesoek aan die park saam met sy vrou en kinders.
“Ons het een oggend op die Salitjepad gery. Ek het voordaf my kamera ingestel op ‘n hoë sluiterspoed om aksie te kon vasvang.
“Daar het het drie vlakvarke in die grondpad gedraf en ek het besluit om hulle af te neem. Ek het begin om die toneel se komposisie op te stel en net toe ek die vlakvarke in fokus kry en die sluiterknoppie druk was daar skielik ’n groot geskarrel. Die vlakvark het geskreeu vir ‘n vale. Ek het die sluiterknoppie bly druk en later gemerk dat dit ‘n luiperd was wat een van die klein vlakvarkies gevang het. Die ander twee (die ma en die ander vlakvarkie) het weggehardloop, maar sekondes later het die ma terug gestorm na die luiperd. Sy het haar kop laat sak en die luiperd met ‘n groot slag getref. Dit het die luiperd deur die lug laat trek, maar hy het aan sy prooi bly klou,” vertel Koos.
Na ‘n tweede kopstamp het die luiperd die vlakvarkie gelos. Al hierdie aksie het plaasgevind in net meer as 60 sekondes.
“Ek het eers ‘n paar minute na die aksie besef dat dit ‘n baie spesiale toneel was wat my beskore was.”
Dit was egter Koos se vrou wat hom oortuig het om die fotos in te stuur vir die kompetisie.
“Die eerste foto waarmee ek ooit ‘n toekenning ontvang het, was “Pedestrian in the mist”. Dit was die wenfoto in die Country Life-kompetisie. Die prysgeld was R1 000. Dis die foto wat my fotografie stokperdjie aangevuur het,” vertel Koos.
Sedertdien is daar van sy foto’s in onder meer Die Wildtuin-Bus (Afrikaans) The Safari Bus (Engels), gepubliseer wat in al die Nasionale Parke se winkels te koop is.
Koos spog ook met ‘n hele rits PSSA en klub-toekennings wat bewys dat sy 50/50 wenfoto geen gelukskoot was nie!
“Ek kry maar min kans om fotos te neem, maar ek geniet fotografie as ‘n stokperdjie. Ek hou ook baie van reis en gebruik sulke geleenthede om twee van my passies dan te kombineer,” sluit Koos af.

Koos Fourie, bo-baas plaaslike amateur-fotograaf.
Koos Fourie, bo-baas plaaslike amateur-fotograaf.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button