
Retha Fitchat
VANDERBIJLPARK. – Slegte nuus so kort voor Kersfees is dat ‘n man van 71 jaar vanoggend dood in sy swembad in Vanderbijlpark aangetref is.
Vorgens Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, het paramedici van dié nooddiens vanoggend (23-12-2016) omstreeks 10:30 by die man se huis in SE1 opgedaag, nadat hulle oor die voorval ingelig is. Hulle het die man in sy swembad aangetref. Hy was ongelukkig reeds dood en niks kon verder vir hom gedoen word nie.
Volgens mnr. Vermaak was die man vermoedelik reeds meer as ‘n dag lank oorlede. Hy is vanoggend deur sy tuinier in die swembad aangetref. Die polisie is op die toneel om die omstandighede van sy dood te ondersoek.
Die oorledene se identiteit word nog weerhou totdat sy naasbestaandes van sy dood in kennis gestel is. Die presiese oorsaak van dood sal met behulp van ‘n lykskouing bepaal word.



