Schalk le Roux
VANDERBIJLPARK. – ‘n Barmhartige Samaritaan van die dorp het met haar nalatenskap verseker dat honderde weggooi diere-kinders se lewens ten goede sal verander.
Me. Godelieve Wells (67) het op 26 September die stryd teen breinkanker verloor. Sy is in 2004 vir die eerste keer met breinkanker gediagnoseer en nadat sy chirurgie ondergaan het, het sy merkwaardig herstel en was sy vir 10 jaar in remissie. Ongelukkig het dokters verlede jaar weer ‘n gewas ontdek, maar sy het verbete geveg en heelwat behandeling ontvang.
“Hierdie gewas en die intensiewe behandeling kon haar positiwiteit nie onderkry nie. Sy het nooit haar sin vir humor verloor nie, het altyd geglimlag en het nooit gekla nie. Al het haar gesondheid vanjaar steeds versleg, het sy steeds positief gebly en ‘n ‘amazing battle’ teen hierdie siekte geveg, al het dokters haar slegs ‘n paar maande gegee om te leef.
“Haar hondjie Chanel is ‘n ‘rescue dog’, en het haar baie genot en vreugde verskaf terwyl sy my tannie dag en nag opgepas het,” vertel Godelieve se susterskind Yvette. Ongelukkig het me. Wells haar stryd teen kanker verloor. Sy was ‘n groot ondersteuner van diere-reddingsorganisasies, veral omdat haar honde-kind Chanel haar soveel vreugde verskaf het.“Haar laaste wens was dat sy ‘n skenking aan so ‘n organisasie wil maak. Haar familie het die groot behoefte gesien wat daar was by Purrpaws for Life en het besluit om ‘n groot skenking aan hulle te maak,” vertel Yvette. Lindie Lourens van Purrpaws for Life wil haar opregte dank en lof uitspreek teenoor me. Wells en haar familie vir die groot geldelike bydrae wat hulle gemaak het. Hiermee kon sy Purrpaws se Eskom en veeartsrekening betaal.
“Ons hoop haar nalatenskap van moed en krag sal lank onthou word. Ons hoop dat haar storie ander sal inspireer om die stryd teen kanker aan te sê en ook om diereregte te ondersteun,” het Yvette afgesluit.



