Enkellopendes, kom hoor meer oor ‘maatsoek’ op internet
Alle enkellopende mans en vroue van alle ouderdomme word hartlik uitgenooi na hierdie byeenkoms
Retha Fitchat
VEREENIGING. – Egskeiding of die dood van jou geliefde kan ‘n mens eensaam en weerloos agterlaat. Sommige wil nooit weer trou of in ‘n verhouding wees nie, maar wanneer die rouproses na baie trane en verdriet begin verbygaan, wil van dié enkellopendes graag weer na ‘n spesiale maat begin soek. Maar waar kan sulke eensame mense weer ‘n pasmaat ontmoet?
Die internet klink na die perfekte oplossing – dit is relatief goedkoop en jy kan sommer in die veiligheid van jou huis by ‘n “maatsoek-webwerf” aansluit. Dit is ongetwyfeld een van die beste maniere vir enkellopendes om nuwe vriende te ontmoet, maar jy moet wakker loop en bedag wees op gevaartekens.
Op Sondag 19 Februarie word webwerwe en al die pret en gevare wat daarmee gepaard gaan, by die Vaaldriehoekse Alleengroep-byeenkoms bespreek en uitgepluis. Kom deel jou ervaring en moenie een van die slagoffers word nie.
Alle enkellopende mans en vroue van alle ouderdomme word hartlik uitgenooi om die byeenkoms om 14:00 by Kowiestraat 54, Drie Riviere by te woon. Bring ‘n geldjie saam want tee/koffie en koek is teen ‘n geringe fooi beskikbaar. Skakel Elsa du Toit by 083 666 8341 vir meer besonderhede.



