‘n Jarelange inwoner van Meyerton, mnr. Brian Voget, stem hiermee saam. Die enigste verskil is dat hy albei sy seuns ‘n paar uur na mekaar vir ewig moes groet.
Desmond (22) en Brandon Voget (18) is beide in ‘n fratsongeluk in Bloemfontein dood, nadat ‘n wolkbreuk die stad op 3 Maart getref het. Desmond het nog vir sy pa drie video’s van die wolkbreuk op WhatsApp gestuur, min het hy geweet dat dié wolkbreuk ook sy seuns se lewe gaan kos.
Volgens mnr. Voget was Desmond en Brandon op pad huis toe na werk. Desmond was die takbestuurder van SA Airlink se Cargo-afdeling by die Bram Fischer Internasionale lughawe. Die voertuig het ‘n plas water getref, waarna dit gegly en ‘n paal getref het. Daarna het dit nog verder gegly en dak-eerste in die stormwaterkanaal langs die pad geland.“Konstruksiewerkers aan die oorkant het gesien wat gebeur het en met ‘n hyskraan die voertuig uit die stormwaterkanaal getrek. Die voertuig was sowat 15 meter onder water,” sê mnr. Voget.
Teen daardie tyd was noodpersoneel van ER24 ook op die toneel en het alles in hul vermoë gedoen om die twee seuns te red. Hulle het Brandon drie keer bygekry, maar hy is in die ambulans oorlede, terwyl hulle Desmond een keer kon bybring. Hy is na die Mediclinic Bloemfontein geneem, waar hy in die intensiewe sorgeenheid aan sowat 12 masjiene gekoppel was.
“Die dokter het ons ingelig oor die ernstige beserings wat Desmond opgedoen het en dat hulle sukkel om suurstof in sy bloedstroom te kry. Hy het ook geen reaksie getoon nie.” Desmond se hart het net na vyfuur gaan staan.
Brandon, wat verlede aar sy skoolloopbaan aan die Hoërskool Dr. Malan voltooi het, sou op 6 Maart saam met sy broer by die lughawe begin werk.“Brandon is na skool na sy broer toe sodat hy hom kon help om werk te kry. Hy het ook vir die Knights-rugbyklub uitgedraf. Albei seuns was kranige atlete en het met spiesgooi tot op Suid-Afrikaanse vlak deelgeneem.
Albei was lief vir rugby en van karate kon jy hulle niks wysmaak nie. Brandon en Desmond was leerlinge aan Laerskool Voorwaarts en Hoërskool Dr. Malan.
“My seuns was baie na aan mekaar. Hulle was daar vir mekaar deur dik en dun. Dit is werklik ‘n harde slag en dit is ‘n baie moeilike tyd vir ons.” Brandon was vier jaar gelede ook in ‘n ernstige ongeluk en in ‘n koma.
“Ons het destyds gedink hy gaan dit nie maak nie, maar hy was vir nog vier jaar vir ons gespaar. Hy was maar altyd die ongeluksvoël en ‘n regte waaghals en rabbedoe,” sê mnr. Voget. Desmond aan die ander kant was die standvastige een wat uit sy pad gegaan het vir ander. Desmond en Brandon is op 13 Maart vanuit die NCCM Kerk in Meyerton begrawe.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!



