SIES! Dit stink in Leeuhof
VEREENIGING. - Inwoners van Rock Rabbitstraat in Leeuhof sit met hul hande in hul hare die afgelope ses weke met die rioolwater wat die hele pad vol lê.
Die probleem is al telkemale gerapporteer, maar hulle moet elke dag maar die rioolwater en die reuk daarvan trotseer.
Vir die bejaardes van Leeuhof wat daagliks na die Leeuhofgemeenskapssentrum gaan om ‘n bord kos te kry en deel te neem aan aktiwiteite is dit veral ‘n kopseer. Hulle kan nie die sentrum se badkamergeriewe gebruik nie en moet nou ‘n ompad stap om by die sentrum uit te kom.
Werknemers van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit was blykbaar gister in die gebied om die probleem te herstel, maar die rioolwater lê steeds waar dit gister was en die toilette se water stoot steeds op.
Dit is egter nie al probleem in Leeuhof nie.
Inwoners is ook bekommerd oor die toestand van die paaie waar die een slaggat op die ander volg, straatligte wat nie werk nie en die hoë misdaadsyfer.



