Boetie en sussie ernstig beseer in ongeluk op R42
MEYERTON. - ’n Vierjarige seun en sy tweejarige sussie het ernstige beserings opgedoen in 'n botsing tussen twee voertuie op die R42 naby Mooilande vroeër vandag.
Volgens Chris Botha, Netcare 911-woordvoerder, was nie een van die twee kinders was ten tye van die ongeluk vasgegord of in ’n motorstoeltjie nie. Die seun is deur omstanders uit die voertuig gehelp terwyl sy sussie uit die motor geslinger is. Hul ma het wonderbaarlik slegs geringe beserings opgedoen.
Volgens ooggetuies het die botsing gebeur omdat een van die twee voertuie nie by ’n kruising gestop het nie.
Die seuntjie is op die toneel aan ’n ventilator gekoppel en behandel voor hy na die hospitaal gevlieg is. Sy sussie is in ‘n kritieke toestand na dieselfde hospitaal geneem onder toesig van ’n gevorderde lewensondersteuningsparamedikus.
Die kinders se ma is ook deur paramedici van ’n ander nooddiens vir verdere mediese sorg na ’n hospitaal geneem.
Die oorsaak van die ongeluk word ondersoek.



