
Die swendel van ‘n Witman (Deel 1)
Ek is “Oom Erwee”. ‘n Netjiese identiteit wat vir meeste mede-Afrikaners heel geloofwaardig sal klink.
Ek het al in die Vaalweekblad gelees van mense wat so kla oor ander oordat hulle sleg praat van witmense. Hierdie is my verhaal as swendelaar, eintlik ook kulkunstenaar, iemand met ‘n kranksinnige identiteit. Hierdie is maar een van vele swendelpassies wat ek ken en wend net my intellek in die verkeerde rigting aan, ek is eintlik rêrig slim. En ek is ‘n geslag wat my kinders en kleinkinders ook sò leer om soos ‘n houtkapper te wees, kap gedurig gate in die samelewing se boot sodat ander vergaan en vlieg dan weg na ‘n volgende boot. Daar is natuurlik raad met hierdie mooi voëls : Jy vang hulle, sit hulle in ‘n hok met mooi tralies onder toesig met ‘n houtstomp waarna hy na willekeur kan kap sonder om die samelewing te besoedel of te verniel. Amper soos om ‘n wet te maak om iemand te beskerm wat nie na homself nie kan omsien nie.
My storie begin op 20 Maart vanjaar. Ek bel mense wat besighede het of wat dienste lewer aan die publiek en vra om hulp in ‘n krisis situasie, in hierdie geval Vrydagmiddag so teen een uur want die naweek lê voor en ek wil nie oor naweke werk nie. Ek wil eintlik geen dag werk nie.
Ek is “Oom Erwee“en boer met beeste en ‘n melkery op die plaas Buffelsfontein. Vir duistere redes kan ek op enige plek op ruimteskip aarde bly, maar ek het die vlakte suid van die Vaal gekies, plat wêreld.
My probleem in hierdie verhaal is dat my koelkamers se krag trip en dat ek 52 karkasse op hand het wat die gevaar loop om verloor te word as die koelkamers nie baie gou terug in bedryf kom nie.
Ek bel vir Johan in Vanderbijlpark en vra hom om dringend te kom kyk na die probleem, die verlies van die vleis is groot skade. Ek sal hom R2 000 betaal want ek het R52 000 kontant in my kluis. Die aanduiding na die plaas is eenvoudig, tussen Sasolburg en Parys, presies 16 kilometer vanaf Sasolburg op die linkerkant op die pad, jy kan dit nie mis nie.
Johan spring in sy lorrie, gooi brandstof in, angstig om vir die Oom te help. Net so rukkie later bel ek hom weer en vra ‘n groot guns. Kan hy nie asseblief vir my Vodacom lugtyd koop en dit saambring voor hy vertrek nie, sommer so twee van R275. Die ou Tannie wat die boeke doen koop dit gewoonlik sommer op die internet, maar sy kan glad nie nou in die stelsel inkom om die fone op te top nie. Ek wag weer so ‘n rukkie en bel vir Johan en vra of hy nie sommer die nommers oppie lug vir my kan gee nie, dis al laat en die tannie wil transaksies doen met die foon en as gevolg van die stelsel wat af is, kan sy nie tyd koop nie. Johan doen dit so wrintie waar vir my.
Ek wag weer so ‘n rukkie en bel weer vir Johan en bevestig die nommers is korrek en vra hom weer ‘n groot guns, nou maak ek verskoning want ek voel sleg om hom weer ‘n guns te vra, maar ek kan aanvoel tog ek het hom aan sy kn@!!&#s beet. Kan hy nie asseblief vir my MTN lugtyd koop en dit ook saambring voor hy verder ry nie, sommer so twee van R180. Ek bied hom nou R3 000 aan plus die lugtyd want sien, ek mag skelm wees, maar ek is g’n flentergat nie. En so by my kool, bel Johan my terug en gee vir my die nommers solank, sodat die tannie kan aangaan want die tyd trek al na drie uur toe, die naweek is op hande. Ek skreeu toe ook sommer hoorbaar aan die werkers om die vleis van koelkamer twee na koelkamer drie te verskuif, die vleis moet behoue bly, groot geld hierdie. Ek bel weer vir Johan en sê vir hom die sekuriteit by die hek is ingelig oor sy koms en om my nie op te hou nie en my dadelik te laat deurkom. Ek kry weer so gevoel Johan voel nou baie belangrik, hy vlieg nou sterk, as dit reën moet jy skêp.
Die swendel van ‘n Witman (Deel 2)
En toe vat Johan die pad plaas toe. Hy ry op die aanwysings weswaarts met sy oog op die afstandmeter om nie die plaasafdraai te mis nie. Hy kruis later die N1 hoofweg, nou al 21 kilometer padlangs, deur die koppies na Parys, sien Parys in die verte. Hy begin wonder of hy nie maar eerder Parys toe moet ry en daar ‘n koppie koffie gaan drink nie, hy is nou in die Vrystaat, so te sê op Parys se voorstoep, proe al die koffie. Maar Johan het ‘n mission, is pligsgetrou om die Oom se vleis te red van verrotting.
Maar Johan draai toe maar om, miskien die plaaspad misgekyk. Ry terug oos tot tien kilometer vanaf Sasolburg, draai weer wes tot naby die padpredikant en toe is hy grondpad die vlakte in, suid op soek na die plaas. Verskeie plaaslike volk gevra wat hier die lewenslig gesien het of hulle Oom Erwee ken, aikona. Probeer die Oom bel, geen kontak, miskien die vlakte waar nie sein is nie, dink hy seker.
Toe vind hy ‘n plaasopstal en die mense begin oproepe maak om uit te vind wie die vreemde boer in die omgewing dan is, nog nooit van hom gehoor nie, sonder sukses. Intussen begin Johan wonder of hy nie bedonner is nie, maar stry teen oorgawe. Terug noord tot op die R59, toe weer oos terug Gauteng toe.
Stop weer om aanduidings te vra. Hierdie keer by ‘n gerespekteerde boer wat die hele Noord Vrystaat se boere se foon nommers het en wat op die gebiedsbeskerming ingeskakel is. Hy verseker my hy ken al die boere van hier tot by die N1, sy grond. Oom Erwee se naam en nommer is nou moertoe, in die niet verdwyn.
Toe kom die besef, daar is nie sò ‘n plaas van ‘n dag oud nie, hy is bedonner. Hy merk die son sak nou vinnig en is al byna onder, simbolies dink hy. Hy het aanvanklik nie hardop gevloek en geskel nie, maar aan vele vierletter woorde gedink. Later het hy de-bliksem in geword en so verskriklik woedend magteloos gevoel soos die gevoel wat jy kry wanneer jy tuis kom en jou huis is rot en kaal gestroop, ellendig soos ‘n uitgedroogde lemoen. Sy pynliggaam het byna die oorhand gekry, maar hy het onthou daar is mense wat nog in daardie liggaam leef wat nog nie verlos daarvan is nie, hy was òòk daar. Maar hy kon rustig aan die slaap raak en het die volgende oggend wakker geword met ‘n onvrede in sy gemoed. Dit was egter van korte duur omdat sy ego vernederd gevoel het en nie omdat hy iemand ingedoen het nie. Stel jouself voor om met so ‘n afgryslike gevoel van negatiewe energie as bedmaat te lewe, amper soos Pontius wat nà jare nie die bloed van sy hande kon afwas nie. Ek het ‘n idee my nommer het opgekom, my st@#nt is in die pos.
Johan het my sedert 20 Maart 111 keer probeer bel, maar ek het my foon afgesit om aandag te gee aan my nou vrot karkasse in my siel. Johan het nie probeer om my te vergewe nie, hy weet iets wat jy weerstaan, versterk jy. Ek sal weer vir Johan bel as die koelkamer se deur dalk agter my toeslaan en ek binne vasgekeer is, dis donker en koud daarin, hy sal die slot van die deur kom sluit.
Verskuilde Groete
Oom Erwee
060 799 7577
Johan Joubert skryf:
Die bostaande is ‘n ware verhaal en as dit vir iemand iets kan beteken om aan te hou goed doen aan ander, wees egter bewus vir die verskuilde agenda.
Ek wil glo hy is iewers in hierdie kontrei vanweë sy detail omskrywing in sy fantasie wêreld, so ook sy verbeeldings vriendin wat sy boeke doen. Hy sal weer soos ‘n verslaafde toeslaan in ‘n ander gedaante aangesien my R910 lugtyd op sy selfone leegloop soos ‘n uurglas.
Met nie groot moeite en ‘n hofbevel kan bepaal word in watter selfoon die lugtyd kodes ingesleutel is asook die eksakte ligging daarvan.
The moral of the story : Oom Erwee het dit nie reggekry om my vertroue in die samelewing te skaad of te laat verloor of verby witmense te stap wat in tamatiestraat sit nie.)
Groetnis
Johan Joubert
5 Mei 2017



