“Ek leef my droom en sê elke dag dankie!”
Ontmoet Lanie Coetzer, bemarkingskoördineerder van Cantare Jubiloso
Retha Fitchat
SASOLBURG. – Op Sondag 7 Mei om 15:00 gaan musiekliefhebbers regskuif vir ‘n musikale kuiermiddag saam met dirigent Richard Cock en die Praise Simfoniese Orkes, die Cantare Jubiloso Koor, die Sasolburg Sanggroep, die sopraan Charlotte Kilian en die bariton Nicholis Louw. Dié lofprysing- en aanbiddingskonsert gaan jou met ‘n lied in die hart laat huis toe gaan! Dit vind plaas by die Ettienne Rousseau-teater in Sasolburg. Kaartjies is teen R190 per persoon by Computicket beskikbaar.
Een van die koorlede van die Cantare Jubiloso Koor, wat ook bemarkingskoördineerder van die koor is, is Lanie Coetzer.
Lanie het aan die destydse Pothefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO) en die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) studeer, waar sy grade in Bcomm(Regte) (cum laude) en LLB (cum laude) behaal het. Tydens haar studies word sy ook aangewys as die beste finalejaar student in Ekonomie, Bedryfsekonomie en Korporatiewe Reg en ontvang erekleure vir akademie van beide die universiteite.
Sy was vir 2 jaar die sêr-leier op die PUK en ook vir 2 jaar lid van die RAU koor onder leiding van Renette Bouwer. Gedurende 1997 kwalifiseer sy as prokureur en werk vir 4 jaar daarna as hoof van die Maatskappysekretariële afdeling – Kommersiële Reg by die eertydse Hofmeyr van der Merwe (nou bekend as Cliffe Dekker Hofmeyr).
Vir die afgelope 16 jaar werk dié mooi, musikale blondekop as Administratiewe-, Finansiële-, Bemarkings- en Personeelbestuurder, asook Regsadviseur in haar en haar man se eie besigheid. Sy boer op die kantlyn met skape en het as trotse eienaar van “Vioolkraal Dorpers” ‘n pragtige dorperstoet om mee te spog.
“Ek kom uit ‘n baie musikale familie en was van kleins af blootgestel aan en betrokke by musiek – dis vir my soos asemhaling – ek kan eenvoudig nie daarsonder nie!” sê Lanie geesdriftig.
“Aan die begin van 2014 het ek aangesluit by Cantare Jubiloso koor – een van die beste besluite van my lewe. Dit is die wonderlikste koor, met die mees fantastiese mense vir wie ek te alle tye my beste sal gee! Wat hierdie koor besonder maak is dat dit bestaan uit vrywillige, maar uiters musikale lede wat sing omdat hulle lief is daarvoor en die uitsluitlike doel voor oë het om gehore aan te raak met mooi musiek. Ons probeer ook deurgaans van professionele instrumentaliste en gaskunstenaars gebruik maak om ‘n produk van uitstekende gehalte te lewer. Geen moeite is te groot nie!
Naas my familie, is mense en musiek my grootste passies en as bemarkingskoördineerder van Cantare Jubiloso Koor is ek in die uiters bevoorregde posisie om albei hierdie passies in kombinasie met mekaar uit te leef! Dis werklik vir my ‘n absolute voorreg om saam met ons koorleier, Gideon Els te werk – hy is een van daardie ongelooflike talentvolle mense met die mooiste persoonlikheid om dit te komplimenteer!,” sê Lanie.
“My werk as bemarkingskoördineerder bring my in aanraking met soveel interessante persone en laat my daagliks te doen kry met wonderwerke – ek sien letterlik partymaal hoe die Here een deur laat toegaan om net ‘n ander beter een te laat oopgaan…. en dan is daar natuurlik die absolute seëning om met ‘n glimlag, deur ‘n koorwerk wat met oorgawe gesing word, met ‘n stukkie simpatie, ‘n gratis kaartjie hier en daar en somtyds net ‘n drukkie, die lewens van diegene te mag aanraak wat my pad kruis… Ek lééf regtig op hierdie stadium my droom en sê elke dag dankie daarvoor….”



