Ondersoek by Catherine Robson afgehandel… wat is die uitkoms?
VEREENIGING. - Teen die tyd weet almal wat op hoogte van nuusgebeure is van die omstrede Catherine Robson-video wat links en regs op Facebook gedeel is. In die video maak drie meisies ernstige aantygings, onder meer dat hulle buite moes slaap, dat die huismoeders die kinders vloek en slaan en dat daar kokkerotte en staalwol in hulle kos is. In die video hoor jy hoe twee ander vrouens ook in die agtergrond praat.

Kort na die video die lig gesien het, het ds. Danie Kruger, bestuurder van die Catherine Robson Kinderhuis – en Jeugsorgsentrum, dit ook onder oë gehad en rapporteer by die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling aangemeld vir ‘n onafhanklike ondersoek.
Dieselfde week het een van die dogters in die video se ma en suster, wat die video geneem en gedeel het op Facebook, ‘n vergadering aangevra by die kinderhuis waar hulle erken het dit was leuens.
Ten spyte hiervan het die ondersoek voortgegaan en die gevolgtrekking dat die bewerings vals is dat dit onder die aanhitsing van een van die dogters se ma gemaak is, is op 30 Mei bekend gemaak.
Lees die persverklaring wat deur die Catherine Robson Kinder- en Jeugsorgsentrum uitgereik is:
Op Dinsdag 2 Mei 2017 het drie dogters bepaalde aantygings deur middel van ʼn video-opname op sosiale media versprei oor Catherine Robson Kinder- en Jeugsorgsentrum. Die voorval is onmiddellik nadat die video aan die lig gekom het, deur Danie Krüger, bestuurder van die sentrum, by die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling aangemeld vir ‘n onafhanklike ondersoek insake die kommerwekkende bewerings. Die gevolgtrekking waartoe die ondersoekbeamptes gekom het, is op 30 Mei 2017 bekend gemaak, naamlik dat:
• Die bewerings vals is en dat dit onder aanhitsing van een van die dogters se moeder gemaak is.
Daar is kennis geneem dat die moeder en die betrokke dogters ʼn erkenning in hierdie verband gemaak het en dat ʼn verklaring reeds in die Vaalweekblad van 5 Mei 2017 en op sosiale media gepubliseer is.
Stawende getuienis is tydens die ondersoek aan die beamptes voorgelê ter bevestiging dat die betrokke kinders hulle reeds vir ʼn geruime tyd aan onaanvaarbare en onbeheerbare gedrag skuldig gemaak het, wat die ander kinders in die sentrum nadelig geraak het.
Die twee oudste dogters was reeds in die proses om na hul 18e verjaarsdae (albei gedurende Meimaand) in die sorg van hul ouers uitgeplaas te word. Die besluit het in konsultasie met alle belanghebbendes plaasgevind. Die betrokke kinders het ook geweier om, in ooreenstemming met die bepalings van die Kinderwet, skriftelik in te stem om ná hul agtiende verjaarsdae in die sentrum aan te bly. Die 16-jarige dogter wat by die voorval betrokke was, is steeds in die sorg van die sentrum.
Die bestuur van die sentrum spreek hul tevredenheid uit dat die verslag geen onreëlmatighede aan die kinder- en jeugsorgsentrum se kant uitgewys het nie. Hulle betreur egter die uiters negatiewe effek wat deur die kwaadwillige beswaddering op sosiale media veroorsaak is.
Soos talle ander welsynsorganisasies verkeer hierdie sentrum reeds onder finansiële druk en is dit grootliks van skenkings en fondsinsamelings afhanklik. Sodanige aantygings veroorsaak onberekenbare skade en nie net vir die kinder- en jeugsorgsentrum nie, maar ook vir die personeel, bestuur en ander kinders wat geen ander heenkome het nie.
By Catherine Robson Kinder- en Jeugsorgsentrum word daarna gestreef om aan elkeen van die kinders wat deur die Kinderhof in hul sorg geplaas is, die beste moontlike residensiële en terapeutiese sorg te gee. ʼn Ernstige beroep word dus op lesers gedoen om aantygings of fopnuus van hierdie sensasionele aard onmiddellik te rapporteer, dit nie verder te versprei nie en die valsheid van sodanige berigte onder die publiek se aandag te bring.



