Hartseer nuus uit Rustenburg
Liggame van 'n man en vrou is etlike ure na ongeluk eers aangetref

Die liggame van twee mense, ‘n man en vrou, is vanmiddag deur “quad-bikers” aangetref teen ‘n skuinste langs die N4 tussen Dr Moroka-rylaan en die R656 naby Rustenburg.
Volgens Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, is paramedici van dié nooddiens omstreeks 14:00 vanmiddag na die toneel ontbied nadat die “quad-bikers” op die wrak afgekom het.
Met hul aankoms het die paramedici bevind dat die man en vrou vermoedelik reeds etlike ure dood was. Volgens ‘n ander nooddiens is hulle vanoggend omstreeks 02:00 na ‘n ongeluk in die gebied uitgeroep, maar hulle kon nie ‘n ongelukstoneel vind nie. Daar word vermoed dat dit dieselfde ongeluk was maar dat die wrak nie in die nag-ure deur die ander nooddiensspan opgemerk kon word nie.
Die polisie ondersoek die oorsaak van die ongeluk. Die name van die oorledenes is nog nie bekendgemaak nie.




