Dapper Stappers loop 410 roetes plat
Die Dapper Stappers is ‘n dinamiese voetslaanklub in die Vaaldriehoek. Sluit gerus aan!
Retha Fitchat
Die Dapper Stappers is ‘n dinamiese voetslaanklub wat al 27 jaar in die Vaaldriehoek gevestig is en spog reeds met 410 staproetes wat hulle agter die blad het.
Dié roetes wissel van lang stappe (4 – 6 dae), naweekstappe (Vrydag tot Sondag) en dan hul nuutste toevoeging, dagstappe (Saterdae).
Tipiese lang stappe binne Suid-Afrika se grense sluit in die Walvisroete, Swart Tobie, Strandloper, Otter, Skeepwrak, Magoebas, Kosiebaai en vele meer. Tans is van die Dapper Stapper-lede besig om voor te berei vir die Weskus Donkie Safari stap.
Lang stappe buite Suid-Afrika se grense sluit in die Visrivier, Naukluft, Batoka en Kilimanjaro. Sommige van die dapper lede berei tans voor vir hul Mount Everest stap.
Tipiese naweek roetes sluit in Rapids, Slagthoek, Tierfontein, Suikerbosfontein, Bermanzi en vele meer. Van die naweek roetes kan net as rugsakroetes gestap word en van die roetes kan as basiskamp-roetes gestap word. Tipiese dagstap-roetes sluit in Suikerbosrand, Klipriviersberg, Walter Sizulu Botaniese tuin, Twain Crater en vele meer. Met die stappe stap jy rustig met ‘n dagsakkie en na die stap is dit worsbroodjie-braai en kuier.
Tot dusver het 425 stappers al die klub se besprekings beproef. Die klub se ledetal is tans 44 gesinne (52 stappers). Die klub het ook 28 gesinne (40 stappers) as besoekers.
Die doel van die Dapper Stappers Voetslaanklub is om geleenthede te skep vir gesinne asook enkellopendes wat die buitelewe deur middel van stap wil beleef. Ledegeld is tans R150 per gesin per jaar (Januarie tot Desember) en word hersien met die Januarie-jaarvergadering. Besoekers betaal ‘n R20 gastefooi per roete as jy nie ‘n permanente lid van die klub wil wees nie. Die klub het ‘n jaarprogram en word vroeg elke Januarie na al die lede en gaste versprei.
Skakel gerus die voorsitter, Koekie Botes, by 082 410 1662 of stuur ‘n e-pos na koekie.botes@senmin.co.za
Die klub hou rekord van elke stap en stapper se inligting en na elke 500 km voltooi, word ‘n sertifikaat aan stappers oorhandig tydens die jaar- en halfjaarvergaderings. “Ons sien uit daarna om jou na roetes te vat wat jy nog nie beleef het nie,” nooi Koekie.



