Botsing teen boom
Noodhelikopter vervoer insittende na hospitaal vir verdere gespesialiseerde behandeling

‘n Vrou is vandag per noodhelikopter na die Lenmed-Hospitaal vervoer nadat sy ernstig in ‘n padongeluk beseer is. Sy was ‘n insittende in ‘n BMW wat omstreeks 16:00 vanmiddag teen ‘n boom in Morrisstraat, Meyerton, gebots het.
Volgens Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, het paramedici van dié nooddiens sowel as lede van die Midvaal Brand- en Reddingsafdeling vanmiddag drie beseerdes op die ongelukstoneel aangetref. Die bestuurder en een van die insittendes het ligte beserings opgedoen. Albei kon uit die voertuig verwyder word en is na behandeling op die toneel, na ‘n nabygeleë hospitaal vervoer. ‘n Erg beseerde vroulike passasier was egter in die voorkant van die voertuig vasgekeer en moes met spesiale toerusting deur Midvaal se Brand- en Nooddienste losgesny word.
Sy is op die toneel behandel voordat sy deur die ER24 OnePlan Mediese Helikopter na die Lenmed Hospitaal vervoer is vir verdere gespesialiseerde behandeling.
Die presiese oorsaak van die ongeluk is nog onbekend en word deur die betrokke owerhede ondersoek.



