Sonlandpark Apteek vier 40 jaar
Sonlandpark Apteek het in die afgelope 40 jaar van ‘n nederige, klein begin na ‘n groep van besighede ontwikkel, wat uitgebrei het oor die hele Suidelike Afrika, Europa en twee lande in die ou Sowjet-Unie - met Sonlandpark Apteek steeds as die administratiewe spilpunt
Retha Fitchat
VEREENIGING. – “Veertig jaar. Terwyl ek dit sê kan ek nie glo dis van myself wat ek praat nie. Dat die Apteek in Sonlandpark al veertig somers se hooikoors en veertig winters se verkoues en griep een vir een afgetik het… Vir veertig jaar al! Veertig jaar se wonderlike kliënte – mense wat ons vriende geword het. Veertig jaar van nuwe dinge ontwikkel en van hou by die oues wat werk. Wat ‘n voorreg! Wat ‘n onverdiende seën…”
Só praat apteker Josef Coetzee sr. oor sy werk en sy kliënte wat hy met soveel passie dien.
Sonlandpark Apteek het in die afgelope 40 jaar van ‘n nederige, klein begin na ‘n groep van besighede ontwikkel, wat uitgebrei het oor die hele Suidelike Afrika, Europa en twee lande in die ou Sowjet-Unie – met Sonlandpark Apteek steeds as die administratiewe spilpunt!
Deur die jare het die Coetzee Apteke Groep verskeie lae koolhidraat programme en produkte in die gesondheid- en dieetsektor ontwikkel. Onafhanklik of in vennootskappe het die Groep ook belê in verskeie besighede en inrigtings in ander sektore van die ekonomie soos Christelike publikasie, Bybelvertaling, opleiding, boerderye, vervaardiging, bemarking, invoer en uitvoer asook eiendomme soos behuising en stoorplekke.
“Terwyl ek, na my universiteitsjare, my vakleerlingskap as apteker by my pa, Schalk Coetzee, gedoen het, het ek alreeds begin beplan aan my lewenslange droom om met net my rugsak op die rug deur die wêreld te ryloop. Na heelwat van hierdie droomreëlings al getref is, raak daar in Junie 1977 ‘n winkel te huur in Sonlandpark beskikbaar. Omdat daar ook ander moontlike huurders was, moes ek en my pa die winkel dadelik neem – of verloor. Dit was ’n moeilike keuse! ’n Goeie plek vir ’n apteek teenoor my lewensdroom?”
Getrou aan sy aard, het Josef besluit om nie te kies nie, maar om albei aan te pak! Hy het die apteek oopgemaak net voor hy vertrek het en vir ’n jaar lank geryloop, gevlieg en gery van die Midde-Ooste, deur Europa en die Amerika’s tot in Rio de Janeiro vanwaar hy teruggevlieg het na SA.
“Intussen het my pa al die verantwoordelikheid op hom geneem en die apteek oopgehou met sy personeel en locums tot ek teruggekeer het in 1978, waarna ek hom van sy groot taak verlos het. Hy moes die hele tyd na sy eie apteek ook nog omsien.
“Aan die begin was dit net ek en een dame, maar spoedig moes al meer personeel aangestel word tot daar net in die apteek alleen 13 voltydse mense betrokke was,” onthou hy.
Daar was vier groot gebeurtenisse wat die koers van die apteek bepaal het. “Die een was toe ons in 1990 Med-Logic, ‘n pos-apteek in Pretoria, gekoop en ingelyf het by Sonlandpark Apteek. Oombliklik het ons vyf keer meer voorskrifte geresepteer en oor die hele land na pasiënte gepos. Ek onthou nog goed watter chaos dit was om al die voorskrifte betyds uit te kry. Dít het my oë oopgemaak om die potensiaal van landswye besigheid in te sien.
“Die tweede was toe ek Die Dieet Waarvan Almal Praat ontwikkel het. Hiermee was my oë gerig om die Program landswyd uit te brei. Saam met my span kon ons tot vandag toe daarin slaag om aan honderde-duisende (rêrig – geen oordrywing) mense in Suid-Afrika en die buiteland die geleentheid te bied om hul gewig effektief (en gesond!) op die langtermyn te beheer.
“Uit die apteek het ook ’n uitgewery ontstaan met die naam WoordVerspreiding. Ons vertaal gewilde Engelse Godsdienstige boeke en bemark dit landswyd en internasionaal. Weekliks stuur ons meer as 135 000 e-pos advertensies oor die hele wêreld uit. Ons boeke is ook in groot boekwinkelgroepe soos CUM beskikbaar.
“Die vierde was die ontwikkeling van ons groothandeltak. Na talle versoeke van ons dieetpasiënte, kon ons sowat vyf jaar gelede suikervrye lekkergoed uit Australië invoer en self lae koolhidraat-kosse ontwikkel. Gewoonlik is suikervrye lekkers net ‘n skrale troos en bitterlik sleg. Ons intense soektog was wonderlik bevredig toe ons hierdie lekkers vind wat heerlik smaak en wat sonder skuldgevoelens geëet kan word.
“Nadat my seun, Josef jr. drie jaar gelede by die groep aangesluit het, het ons begin om hierdie produkte landswyd te bemark en tans word dit na meer as 400 gesondheids- en kettingwinkels internasionaal versprei. Ons is steeds besig om die reeks uit te brei. Plaaslik kon ons ook ons dieet-klinieke uitbrei na Rose-Girlz in Drie Riviere en Fab-Lane in Vanderbijlpark, vanwaar ons binnekort ook skoonheidsprodukte gaan versprei na spa’s en salonne.
“Ons is dankbaar dat ons daarin kon slaag om met die meeste van ons produkte en dienste ‘n positiewe, gelukkige en herhalende kliëntebasis onder oud en jonk te kon vestig. En dit het alles begin by kosbare kliënte wat ons veertig jaar gelede begin ondersteun het!”
Foto bo: Josef Coetzee senior en junior in Sonlandpark Apteek, waar hulle steeds voortbou op die Groep van Apteke se nou reeds bekende sukses.



