News

VOLLEDIGE BERIG: Gavin-skietdood

VEREENIGING. - Die man wat tereg staan op die moord van die 19-jarige Gavin Victor het Maandag weer vlugtig in die Vereenigingse Streekhof verskyn, toe die staat en sy regsverteenwoordigers hul finale slotbetoë vir die Artikel 174 ontslag ingedien het.

Victor is op 7 Mei verlede jaar in die parkeerarea van Manhattans in Drie Riviere-Oos doodgeskiet. Vaalweekblad het vroeër berig dat ‘n onderonsie tussen Klopper en een van Gavin se vriende vroeër die aand ontstaan het. Toe Gavin en sy vriend ‘n geruime tyd daarna op pad was huis toe, het Klopper en sy pa, Andreas, hulle ingewag.
Beeldmateriaal wys hoe Victor se vriend uit die kar geruk en aangerand word. In ‘n stadium probeer Victor tussenbeide tree, maar word drie keer in die bors geskiet.
Die staatsgetuies het klaar getuig en die staat se saak is gesluit, waarop die verdediging nou aansoek gedoen het op ontslag en beweer dat die staat nie daarin kon slaag om die aanklagte teen die beskuldigde te bewys nie.
Adv. Karen van Rensburg wat vir die staat optree, het tydens Maandag se hofverrigtinge gesê daar word beweer dat Klopper uit selfverdediging opgetree het, maar hy het die oorledene drie keer in die bors geskiet en nie net een keer of self in die skouer of been nie. Sy het verder gesê Klopper beweer die skietery was kort na die onderonsie in Manhattans, terwyl die staat se getuies meen dit was minstens twee tot drie ure later.
“Die beskuldigde en sy pa het hulle reggemaak vir ‘n bakleiery. Op die beeldmateriaal waar Victor se vriend uit die kar geruk word, kan jy sien hoe Klopper se pa se hande gereed is vir ‘n bakleiery. Jy kan ook Klopper en sy pa se aggressiewe houding op die beeldmateriaal sien. My mening is, dat as die beskuldigde (Klopper) nie daardie aand Victor se vriend aangeval het nie, Victor vandag nog sou geleef het,” het adv. Van Rensburg aan die hof gesê.
Klopper se regsverteenwoordiger voer aan dat Klopper se lewe bedreig was en dat hy slegs uit selfverdediging opgetree het.
Regter Retha Willemse sal op 11 September uitspraak lewer of Klopper moet getuig.

 

Stephanus Klopper (links) en sy pa, Andreas. Foto: Facebook

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button