News

Man gearresteer vir verkoolde egpaar se moord

VEREENIGING. - Die polisie het na ‘n soektog die verdagte in die moord op die Swart-egpaar van Risiville, gearresteer in dieselfde straat as wat die moord gepleeg is.

‘n Afrikaanssprekende man wat ten tyde van die moord ‘n woonstel by die egpaar, Willem (61) en Isa Swart (65), van Henrystraat in Risiville gehuur het, is Maandagaand omstreeks 20:00 gearresteer by die huis van ‘n vriend.

Hy het glo vir ‘n geruime tyd in Vanderbijlpark weggekruip nadat die DNA-uitslae hom as die hoofverdagte in die saak uitgewys het. Die erg verkoolde lyke van die Swart-egpaar is op 13 Julie deur ‘n verbyganger by Spider Valley ontdek. Hul identiteit is op 21 Augustus amptelik deur die polisie se DNA-uitslae bevestig as dié van die vermiste Swart-egpaar.

Willem en Isa het Woensdag 12 Julie, na ‘n week se vakansie in Nelspruit, teruggekeer, maar dieselfde dag verdwyn. Volgens die loseerder, met wie Vaalweekblad net na die lyke ontdek is, gesels het, het die egpaar dié Woensdag tuisgekom, hom gegroet en daarna het hy eers die volgende dag gehoor van die lyke wat gevind is.

Nadat die forensiese bloedspatsel-tegnici die huis gefynkam het, het hulle wel tekens van bloed in dele van die huis gevind. Die bloed was egter afgewas, wat baie verdag voorgekom het. Die verdagte sal binnekort in die Vereenigingse hof verskyn op die aanklag van dubbele moord.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button