Viljoen-egpaar vier 60 gelukkige jare saam
Die egpaar sê dat liefde, harde werk en respek vir mekaar die resep is vir hul gelukkige huwelik
Twee jarelange inwoners van die Vaaldriehoek, Stoffel en Tina Viljoen, het op 14 September hul 60ste huweliksherdenking gevier. Hulle het mekaar 60 jaar gelede in Potchefstroom ontmoet, waar albei grootgeword het en in 1957 getroud is.
Hulle het hul daarna in Vanderbijlpark kom vestig, waar Stoffel by Yskor begin werk het. Hulle woon steeds in Vanderbijlpark. Die egpaar sê dat liefde, harde werk en respek vir mekaar die resep is vir hul gelukkige huwelik.
Vier kinders is uit die huwelik gebore, twee seuns en twee dogters. Hulle is geseën met ‘n kleinseun en ‘n kleindogter. Hulle gaan hul troudag hierdie naweek saam met hul vier kinders en skoonkinders, hulle kleinkinders en vriende by La Jazelle in Vanderbijlpark deurbring vir ‘n spitbraai en ‘n lekker saamkuier.




