‘Jaag jou drome met alles wat jy het’
‘n Oudleerling van die Hoërskool Transvalia se droom is bewaarheid toe sy op die ouderdom van 18 jaar as lugwaardin gekwalifiseer het
Jannie du Plessis
VANDERBIJLPARK. – ‘n Oudleerling van die Hoërskool Transvalia wat verlede jaar gematrikuleer het, se droom wat sy reeds as jong meisie gehad het, is bewaarheid toe sy op die ouderdom van 18 jaar as lugwaardin gekwalifiseer het.
Cihanca Rudolf (18), se droom is om eendag self te vlieg en die eerste stap na die droom was om ‘n lugwaardin te word.
Sy het reeds sedert die ouderdom van 11 jaar saam met ‘n vriend van die familie in ‘n mikroligte vliegtuig en helikopters begin vlieg. Dit is waar die gogga gebyt het.
“My volgende stap is om ‘n vlieglisensie te kry. Ek wil eendag my kommersiële lisensie bekom,” sê sy.
Cihanca se motto is: dit maak nie saak hoeveel keer jy in jou lewe grond toe gegooi word nie, maar wat saak maak, is hoeveel keer jy opstaan en weer probeer. Sy wil aan ander meisies die boodskap uitdra dat hulle nie bang moet wees om hul drome na te streef nie, en ander se opinie moet ignoreer.
“Jaag jou drome na met alles wat jy het,” sluit Cihanca af.



