SASOLBURG. – Die berugte R59/DF Malan kruising was vir die soveelste keer die toneel van twee aparte botsings verlede week.
In die ongeluk wat Dinsdagaand gebeur het, word vermoed dat twee mans in ‘n Toyota Corolla voor ‘n trok ingedraai het wat op die R59 in die rigting van Parys onderweg was. Die Corolla het ernstige skade aan die passasierskant opgedoen en die insittende aan dié kant van die voertuig moes deur middel van meganiese kake uit die wrak gesny word.
Hy was in ‘n kritieke toestand toe hy na 45 minute uit die wrak bevry is. Die bestuurder van die voertuig het ook ernstige beserings opgedoen.
Die twee insittendes van die Corolla is op die toneel behandel deur paramediese personeel van Vaal Emergency Care en ER24, voordat hulle na die Sasolburg Hospitaal vervoer is vir verdere behandeling.
In Vrydagaand se ongeluk is 14 mense beseer nadat ‘n bakkie en minibustaxi in ‘n ongeluk by die kruising betrokke was. Die passasiers het ligte beserings opgedoen en tien is deur paramediese personeel van Vaal Emergency Care en vier deur ER24 op die toneel behandel.
Hulle is daarna na die Sasolburg Hospitaal vervoer vir verdere behandeling. Die saak word verder ondesoek. Mense wat die kruising gebruik word versoek om nie kanse te vat as hulle die kruising wil oorsteek nie.
Wag eerder 30 sekondes en kom veilig deur die kruising as wat jy ‘n kans waag en voor ‘n ander voertuig beland.






