Local newsNewsNews

Graad 11-leerling in hegtenis na sanger se dood

Graad 11-leerling in hegtenis na sanger se dood

VANDERBIJLPARK. – Die afgelope tyd is daar gereeld berigte oor mense wat dood is nadat hulle by kuierplekke in die Vaaldriehoek in gevegte betrokke geraak het, of selfs doodgeskiet is.
Wimpie Koekemoer (30), is in die jongste voorval van dié aard op Saterdagaand, 28 Oktober by Okie Dokie restaurant in Mumfordstraat aangerand. Hy is Maandag, 30 Oktober breindood verklaar en is dieselfde aand omstreeks 23:10 dood.
Die verdagte, ‘n graad 11-leerder aan HTS Sasolburg, Francois Byleveldt (18), wat familie is van Koekemoer, is Maandagoggend, 13 November deur die polisie in hegtenis geneem weens die aanranding en dood van Koekemoer.
Koekemoer was ‘n gewilde plaaslike karaoke-sanger in verskeie restaurante, kroeë en by funksies. Wat presies aanleiding gegee het tot die rusie is onbekend, maar Byleveldt het Koekemoer glo met die vuis geslaan, waarna hy dadelik grond toe geval het.
Daarna is hy volgens ooggetuies verskeie kere weer geslaan. Die vermoede is ook dat Koekemoer sy kop gestamp het toe hy geval het.
Hy is deur sy vriendin, Ria Calitz en ma van hul 20 maande oue seuntjie, na die Johan Heyns-kliniek geneem. Hy is daar behandel en ontslaan, maar is die Sondag weer na die Sebo-keng-hospitaal geneem.
Op Maandag 30 Oktober is die familie ingelig dat Koekemoer breindood is en hy is later die aand oorlede. Volgens Koekemoer se ma, Valerie Kleynhans Lottering, is daar binne twee dae ‘n fondsinsameling gereël by Route 66. Sy bedank almal wat betrokke was by die reëlings en die publiek vir hul bydraes.
“Daar is genoeg ingesamel vir al die onkoste vir die roudiens,” het Valerie aan Vaalweekblad gesê.
Volgens haar was haar seun baie gewild onder sy aanhangers. Musiek was sy lewe en saam met Ria het hulle ‘n bestaan gemaak deur te sing.
‘n Roudiens is op Woensdag 8 November vir Koekemoer gehou. Hy laat sy vriendin Ria, hul seuntjie Adriaan en vier ander seuns uit sy eerste huwelik agter.
In ‘n persverklaring wat deur HTS Sasolburg uitgereik is, word bevestig dat Byleveldt ʼn graad 11-leerder aan die skool is. Volgens die verklaring werk die skool reeds ʼn geruime tyd met Byleveldt se ouers, die polisie en maatskaplike rolspelers om die proses van reg en geregtigheid vir die gemeenskap as geheel, te laat geskied. Sy inhegtenisname was vir die onderwyspersoneel en sy maats ʼn groot skok.
Die verklaring sê ook verder dat die seun nog altyd op akademiese vlak sy kant gebring het en dat hy geliefd is onder sy maats. Die skool het berading beskikbaar gestel vir personeel en leerlinge wat dit mag benodig. Mnr. Dirk Coetsee, skoolhoof, het hom uitgespreek oor die tragiese gebeure en wil die publiek aanmoedig om nie te spekuleer oor die feite rondom die saak nie. “In dié stadium moet ons die regstelsel ʼn kans gee om sy gang te gaan.”
* Byleveldt is Maandag op borgtog van R2 000 vrygelaat en die saak kom weer op 8 Desember voor. Die saak is na die streekhof in Vanderbijlpark oorgeplaas.

Okie Dokie Restaurant Foto: Jannie du Plessis
Francois Byleveldt

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button