HealthLifestyleLocal newsNews

Onwettige vullisterreine groei by die dag

Die eens pragtige SE7 in Vanderbijlpark word nou almal se informele rommelhoop!

Retha Fitchat

VANDERBIJLPARK. – Inwoners van SE7 se irritasie met Emfuleni se gebrekkige dienslewering dreig nou om kookpunt te bereik.

Vaalweekblad het vroeër die maand berig oor onwettige vullisstorting wat by verskeie oop ruimtes in die woonbuurt voorkom omdat die munisipaliteit nie gereeld die gebied se vullis verwyder nie.

Mev. Yvonne Coertze, raadslid vir Wyk 9 waarbinne SE7 val, het reeds ‘n versoek aan Emfuleni gerig om ‘n groot houer waarin vullis tydelik gestort kan word, in ‘n oop ruimte te plaas totdat die munisipaliteit weer in staat is om gereelde vullisverwydering te doen.

Om alles te kroon was daar onlangs ‘n brand in die Kollege Park-winkelsentrum: Die verbrande materiaal is in ‘n oop gebied voor die sentrum geplaas. Tydens verlede week se storm en gepaardgaande wind, het van die verbrande stukkie papier, roet en as wyd oor die gebied versprei.

“Ons eens mooi woongebied lyk nou soos ‘n onversorgde plakkerskamp. Die vullishope wat oral opspring, is die ideale teelaarde vir rotte, muise, vlieë en goggas. Baie inwoners kla reeds oor ‘n muisplaag in hul huise,” sê ‘n beswaarde inwoner.

Dit blyk dat opportunistiese inwoners van ander gebiede nou ook hul huishoudelike en tuinvullis op die groeiende hope kom stort.

“Ons gaan dié groeiende vullishope nie duld nie. Emfuleni moet hierdie hope nou verwyder en oortreders, wat aanhou met hul onwettige storting, met R1 000 beboet as hulle gevang word.”

Een van die inwoners doen ‘n beroep op mede-inwoners van SE7 om foto’s te neem van onwettige storters se voertuie en dit aan Vaalweekblad te stuur vir publikasie. Vaalweekblad het onderneem om sulke foto’s te publiseer. Dit kan gestuur word na rfichat@media24.com.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button