Weerlig tref werker tydens hoëveldse storm
Uiterste weersomstandighede is vinnig besig is om die “nuwe normaal” te word
Retha Fitchat
Die Vaaldriehoek het die afgelope weke by meer as een geleentheid onder hewige elektriese storms deurgeloop.
Verskeie inwoners vanuit ‘n wye gebied het aan Vaalweekblad gerapporteer dat hul elektrisiteit “uitgeslaan” is. In een geval is ‘n man van in sy 40’s op Dinsdag, 14 November dood toe hy op ‘n gholfbaan in Parys deur weerlig getref is.
Die man, wie se identiteit nog nie aan Vaalweekblad bekend gemaak is nie, het konstruksiewerk in die dorp gedoen en skuiling op die gholfbaan gesoek toe hy getref is. ‘n Kollega, wat saam met hom was, is ook getref maar het slegs ligte beserings opgedoen, berig Russel Meiring, woordvoerder van ER24.
Heelwat reën het ook die afgelope week in die Vaaldriehoek geval. Verskeie inwoners met watermeters het die volgende lesings aan Vaalweekblad gerapporteer: Falconridge Vereeniging: 30mm, Risiville: 34mm, Sonlandpark: 40mm, Sasolburg: 40 mm, Flora Gardens Vanderbijlpark: 65mm, Vaalpark: 70mm, Stephanopark: 80mm, Mullerstuine: 85mm en Lochvaal: 90mm. Hoewel Gauteng se vooruitsig vir reën in Desember redelik goed lyk, is meeste weervoorspellers dit eens dat dit vanjaar moeilik is om ‘n voorspelling te waag. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het reeds in Julie vanjaar gesê dat dit weens verskeie veranderlikes baie moeilik gaan wees om vanjaar se reënvalvooruitsigte vir Suid-Afrika en die res van die suidelike halfrond te voorspel.
Die Australiese Bureau of Meteorology het bevind dat die El Niño-verskynsel tans neutraal is. Wanneer dit aktief is, gaan dit gepaard met ‘n temperatuurverhoging in die suidelike Stille-oseaan, wat weerpatrone wêreldwyd beïnvloed. Dit word gewoonlik met laer as normale reënval in Suid-Afrika geassosieer. Die feit dat El Niño tans neutraal is, beteken hopelik dat Suid-Afrika vanjaar ‘n kwaai droogte gaan vryspring.
Professor Mike Savage, ‘n agrometeoroloog van die Universiteit van KwaZulu-Natal, waarsku egter dat Suid-Afrika toenemend aan hoër temperature gewoond sal moet raak weens grootskaalse klimaatsveranderinge. Hy meen dit is hoofsaaklik te wyte aan wêreldwye kweekhuisgasvrystellings. Julie was vanjaar byvoorbeeld die warmste Juliemaand sedert Suid-Afrika se temperatuurstatistiek vanaf 1880 aangeteken word.
Intussen waarsku ClimateWise, bestaande uit internasionale versekeraars, makelaars en industriële diensverskaffers, dat uiterste weersomstandighede vinnig besig is om die “nuwe normaal” te word. Volgens ClimateWise het weerverwante rampe soos vloede, windstorms en droogtes sedert 1950 wêreldwyd met 600% toegeneem. Suid-Afrika het veral in die afgelope ses jaar ook verskeie uiterste weerverskynsels soos kwaai oorstromings en droogtes beleef.



