Bejaarde egpaar aangeval – man dood, vrou kritiek
'n Bejaarde egpaar van Potchefstroom is vanoggend by hul woning in Miederpark aangeval.

Trudie Botha, eienaar van Electro Security het aan Maroela Media gesê hulle het omstreeks 05:30 ‘n noodoproep van een van die egpaar se bure ontvang. Daar word vermoed dat ‘n onbekende hoeveelheid verdagtes sowat 04:00 toegang tot die afgetrede egpaar se woning in Louwstraat verkry het deur oor die muur te klim.
Die egpaar is by hul agterdeur aangetref. Die verdagtes het vermoedelik aan hul dubbelkajuit Isuzu bakkie gepeuter en toe hulle ondersoek gaan istel is hulle oorrompel. Die man (70) is op die toneel dood verklaar en die vrou (69) is in ‘n kritieke toestand deur IMR hospitaal toe geneem.
Die verdagtes het die dubbelkajuitbakkie gesteel en Botha het inligting oor die bakkie op veiligheidsnetwerke versprei. Sy het kort daarna inligting ontvang dat lede van die AfriForum Buurtwag besig is om soortgelyke voertuig agterna te sit.
Die verdagte agter die stuur het die bakkie gerol, maar die bakkie het op sy wiele tot stilstand gekom en daarna het hy verder gejaag. Hy het toe weer teen ‘n vragmotor gebots en verder gery tot hy die bakkie weer gerol het. Hy het daarna te voet die omliggende landerye ingevlug.
Hy is egter vasgetrek en deur CB Security in hegtenis geneem. Hy sal na verwagting Maandag in die Potchefstroomse landdroshof verskyn.
Sers. Kelebogile Moleko, provinsiale polisiewoordvoerder vir Noordwes het gesê daar was moontlik drie verdagtes, waarvan twee gevlug het toe die bakkie die eerste keer gerol het.
‘n Saak van moord en pogong tot moord word ondersoek.
Besoek ook gerus Potchefstroom Herald vir meer inligting.



