CommunityLocal newsNews

Bestuurshoof van nuwe finansiële dienste-onderneming in die hof

Sake van swendelary, diefstal & bedrog word ondersoek

‘n Vaaldriehoekse sakeman en uitvoerende bestuurshoof van ‘n onlangs gestigte finansiële dienste-onderneming het verlede Maandag in die landdroshof in Vanderbijlpark verskyn weens sy moontlike betrokkenheid by swendelary, diefstal of bedrog waarin kliënte van ‘n ander geregistreerde finansiële beplanningsgroep glo reeds minstens R300 000 verloor het.
Die man was voorheen sowat 6 jaar in diens van die jarelange gevestigde en gerespekteerde MWA Groep, wat ‘n verskeidenheid dienste soos beleggingsbeplanning, aftrede-, boedelbeplanning en skuldberading aanbied. Hy was daar in die skuldberadingsafdeling in diens totdat hy op 31 Oktober vanjaar skielik bedank en by die nuwe onderneming aangesluit het. Dit het egter nou aan die lig gekom dat hy die nuwe onderneming reeds sowat ‘n jaar gelede saam met twee vennote gestig het, terwyl hy nog in diens van die MWA Groep was.
Die MWA Groep het onraad begin vermoed toe ‘n klompie van hul kliënte, nadat hy weg is by die onderneming, navraag kom doen het oor banke wat hul goedere wou terugneem, hoewel hulle die vereiste betalings reeds gedoen het. By nadere ondersoek het dit geblyk dat die verdagte voormalige werknemer rekeninge en betalingsbewyse onregmatig op briefhoofde van die MAW Groep aan kliënte uitgemaak het, maar die bankrekeningnommer vervang het met dié van sy en sy vennote se eie nuwe onderneming.
Dit blyk ook dat hy sy voormalige werkgewer se databasis onregmatig geneem het en niksvermoedende kliënte by sy nuwe onderneming probeer betrek.
Die MWA Groep is tans besig om saam met hul prokureur, Werner van Wyk van De Klerk Vermaak en Vennote, ‘n kriminele en siviele saak teen die verdagte/s voor te berei.
Die hooggeregshofaansoek teen die verdagte en sy onderneming sal volgens beplanning binnekort op die hofrol geplaas word. Mev. Mariekie Willemse, hoofuitvoerende bestuurder van die MWA Groep, versoek almal wat vermoed dat hulle deur die verdagte ingeloop is, om met haar groep in verbinding te tree, en waarsku hul kliënte sowel as ander lede van die publiek om by MWA se kantore in Vanderbijlpark navraag te doen voordat hulle dalk verder uit hul geld geswendel word.
* Die beskuldigde se identiteit en sy onderneming se naam word in hierdie stadium weerhou omdat hy nog nie op die aanklagte gepleit het nie. Hy is tans op borgtog vrygelaat en die saak sal vroeg in die nuwe jaar hervat word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button