22kg minder in net 10 weke
MEYERTON. – “As jy nie jou gesondheid het nie, het jy niks.” Dit is die woorde wat deur Clinton Dreyer (42) se gedagtes gemaal het toe hy ‘n aanlyn liggaamstransformasie-uitdaging aangepak het.
Clinton het in 10 weke ‘n allemintige 22kg afgeskud, ‘n hele paar spiere bygekry en boonop koning gekraai in die mans-afdeling van die kompetisie.
Hiermee het hy nie net aan homself ‘n nuwe geboortepak vir Kersfees geskenk nie, hy het sy lus vir die lewe teruggekry.
Die R10 000 prysgeld is natuurlik ‘n welkome bonus. Altesaam 82 deelnemers (mans en vroue) het aan die kompetisie deelgeneem. “Dit was vir my ‘n persoonlike uitdaging. Ek beplan om dié gesonde leefstylverandering my permanente leefstyl te maak,” sê Clinton, ‘n verkoopsbestuurder by Heineken.
Hy het by sy neef, Gert van Heerden, van die Body Guru Online Transformation Challenge gehoor en besluit om saam met Gert en sy vrou, Carmi, in te skryf. Dit is egter nie ‘n maklike uitdaging nie, maar beslis die moeite werd.
Die eerste drie dae wat jy die detox moet doen was die moeilikste. Daarna moes jy vasbyt om nie in te gee aan versoekings nie, veral oor naweke.”
Sy uitdaging het onder meer ‘n eetplan met ses gebalanseerde etes per dag en oefeninge ingesluit. Clinton begin sy dag om 05:00 in die oggend by K-fit Midvaal, waar die oefensessies ‘n full body workout en kardio-oefeninge insluit. “Dit maak jou nie net fisies sterk nie, maar ook emosioneel, want jy leer uithouvermoë.
“Gesond eet en oefening loop hand-aan-hand. Die een kan nie sonder die ander nie. Soos wat ek gewig verloor het, het dit makliker geword om te oefen. Ek het meer energie gehad en my maag is nie meer in die pad as ek my skoene wil vasmaak nie. Ek voel ook nie meer skaam om my hemp uit te trek nie,” sê Clinton.
Natuurlik het sy vrou, Danelle, ‘n groot rol tydens die uitdaging gespeel.
Behalwe vir die tyd wat sy in die kombuis spandeer het om seker te maak al die maaltye is soos voorgeskryf, het sy hom ook gemotiveer en op sy tone gehou wanneer daar versoekings was.

Verder het sy mede-deelnemers, asook die komplimente wat ingestroom het, bygedra dat hy nie opgee nie.
Hoewel die uitdaging nou verby is, is dit ‘n nuwe begin vir Clinton.
“Ek wil nooit weer teruggaan na waar ek was voor die kompetisie nie. Ek glo gim begin in die kombuis en as jy selfdissipline het, is dit maklik om gesond te eet en te oefen.”
Sy maaltye het onder meer vis, hoenderborsies, maalvleis, groente, eierwit en gewone jogurt ingesluit. “Alkohol en suiker is ‘n groot euwel as jy gewig wil verloor,” sê hy.
Clinton beveel beslis K-Fit Midvaal aan vir mans, vroue en kinders wie se nuwejaarsvoorneme dit is om te begin oefen en gewig te verloor. “Tinus Strydom, die eienaar, is regtig ongelooflik en het my baie gehelp tydens die uitdaging.”
Danelle sê sy is ongelooflik trots op haar man en sy uithouvermoë het haar verbaas. “Die gesonde eetplan is regtig van so aard dat jy daarmee kan volhou en dit is ook geskik vir die hele gesin.
Hier en daar kan jy bietjie aanpas vir jou kinders, maar al drie ons kinders het van die kos gehou. Ek glo natuurlik dat if you can dream it, you can achieve it, en Clinton is nou ‘n goeie voorbeeld, want hy het vir homself ‘n doelwit gestel en dit bereik.”
Met sy nuwe voorkoms en leefwyse voel hy soos ‘n nuwe mens.
Clinton se raad aan ander wat graag in die nuwe jaar gewig wil afskud en ‘n transformasie wil ondergaan is: Wees konsekwent, moenie val vir versoekings nie, eet gesond en oefen, beplan jou maaltye vooruit, as jy wil cheat, cheat slim, matigheid voor oë en onthou die woorde van Winston Churchill… never give up.
As ek dit kon doen, kan jy ook.”



