Vaalweekblad Sportster van die Jaar-kompetisie 2015
Die geleentheid om jouself teen die beste van bestes te meet, is die brandstof wat menige sportlui aandryf om deur die pyndrempel te druk om nuwe hoogtes te bereik. Vaalweekblad besef watter opofferings en bloedsweet dit verg om die kruin van ‘n betrokke sportsoort te bereik en jaarliks word die Vaaldriehoek se sportlui vereer vir …

Die geleentheid om jouself teen die beste van bestes te meet, is die brandstof wat menige sportlui aandryf om deur die pyndrempel te druk om nuwe hoogtes te bereik.
Vaalweekblad besef watter opofferings en bloedsweet dit verg om die kruin van ‘n betrokke sportsoort te bereik en jaarliks word die Vaaldriehoek se sportlui vereer vir hulle deursettingvermoë en ywer op die sportveld.
Vanjaar is geen uitsondering nie en daarom sal daar einde November weer tydens Vaalweekblad se Sport-ster van die Jaar funksie hulde aan die Vaaldriehoek se laerskole en hoërskole sportseuns- en sportdogters gebring word.
DIe grootste verandering is dat die ouers, afrigters en onderwysers eersdaags die geleentheid gegun gaan word om sportlui aanlyn te nomineer. ‘n Digitale nominasievorm is tans op Vaalweekblad se webwerf beskikbaar wat volledig ingevul moet word.
Die kriteria is doodeenvoudig slegs leerlinge wat binne Vaalweekblad se opvangsgebied skoolgaan sal in aanmerking kom. Daar is ‘n laerskole- en hoërskole-afdeling waarin daar ‘n seuns- en dogterswenner in elke kategorie aangewys sal word. Dan word daar voorts in elke hoofkategorie ‘n sportambassadeur aangewys wat die streek plaaslik en internasionaal met onderskeiding verteenwoordig het.
Die realiteit van die saak is egter dat geen leerling kan presteer sonder ‘n onderwyser, afrigter, skool of ouer se hulp en bystand nie. Daarom het Vaalweekblad besluit om ‘n Sportvriend van die Jaar aan te wys om erkenning te gee vir ‘n skool wat nie net die gemeenskap, maar ook Vaalweekblad die beste gedurende die jaar bygestaan het, met onder meer die vloei van inligting.
Gemeenskapskoerante steun hewig op die gemeenskap en in dié geval veral op skole se ondersteuning en samewerking. Die Sportvriend van die Jaar word elke jaar met ‘n spanboufunksie bederf.
Vir die sportlui is daar ook lekker kontantpryse en nog vele meer op die spel. Die kompetisie en kroningsfunksie word jaarliks net groter en groter. Skole en ouers word aangemoedig om leerlinge se prestasie onder Vaalweekblad se aandag te bring. Provinsiale, nasionale en veral internasionale deelname sal veral in die kandidaat se guns tel.
Die sluitingsdatum vir die kompetisie is 1 Oktober 2015. Die inskrywingstydperk strek van Oktober 2014 tot Oktober 2015.
Vaalweekblad behou die reg om die aantal finaliste te vermeerder of te verminder.




