BARRAGE. – Die Barrage-polisie het onlangs ‘n groot deurbraak gemaak deur ’n man in hegtenis te neem wat moontlik betrokke is by verskeie diefstalle van bote in die Vaaldriehoek.
Die man is op Sondagaand 5 Julie in hegtenis geneem, toe die Barrage-polisie na ‘n klagte van diefstal van ‘n boot op ’n kleinhoewe in die Kaalplaats-omgewing toegeslaan het.
‘n Buurman het aanvanklik onraad vermoed nadat daar gereeld in die nag bedrywighede op en van die water af was. Volgens inligting het die boot van die voormalige rugbybaas, Brian van Rooyen, ook ‘n huiseienaar langs die Vaal, se Suntracker (Pontoon boot) die nag van Donderdag 2 Julie verdwyn. Brian het aan Vaalweekblad vertel dat die gemeenskap in Kaalplaats baie nou saamwerk met die Kaalplaats GPF. Hy het die inligting van die gesteelde boot gesirkuleer en het vinnig reaksie gekry. “Toe ek die boot sien, het ek dit dadelik herken aan die naam wat nog deurgeskyn het op die romp van die boot,” vertel Brian.
Die gesteelde Suntracker was reeds uitmekaargehaal. Onderdele van die gesogte “pontoon” boot ter waarde van R1 miljoen was oral op die werf te sien. Sitplekke, panele en handrelings was oral gestoor, tot binne in die sitkamer van die huis. Volgens Brian is van die onderdele nog weg. Dit is vermoedelik reeds na Johannesburg gestuur. ‘n Gesteelde waterponie (jetski) is ook op die perseel gevind. Geoff Stubbs (44), is op die perseel in hegtenis geneem. Hy is die seun van ‘n plaaslike sakeman, Trevor Stubbs, wat ook die eienaar van die kleinhoewe is waar die polisie toegeslaan het. Trevor is ook die voormalige voorsitter van Save the Vaal (SAVE).

Geoff is die eienaar van Geofansons, ‘n praktyk in Randburg wat spesialiseer in die herstel van marine-vaartuie. Geoff was voorheen werkswinkelbestuurder by die groot bootgroep Linux Yamaha in Randburg, voordat hy sy eie onderneming begin het. Volgens sers. Simon Mofokatsana, woordvoerder van die Barrage-polisie, is die saak aan die voertuigdiefstal-eenheid in Vereeniging oorhandig en is daar reeds verskeie ander artikels op die perseel gevind.
Enige iemand wie se bote, waterponies of gholfkarretjies gesteel is, kan SAPS Barrage kontak by (016)987 1811/81.



