VEREENIGING. – Terwyl verskeie monumente en ander plekke van historiese belang die afgelope tyd onder vandale se vernielsug deurgeloop het, het die Vaaldriehoek dit tot dusver gespaar gebly, of so het ons gedink.
Mnr. Anton van Zyl, ‘n Vanderbijlparkse inwoner, het onlangs die graf van George William Stow besoek en gevind dat dit ernstig beskadig is.
Stow was die geoloog wat in 1878 die ryke steenkoolneerslae in die omgewing wat vandag as Vereeniging bekendstaan, ontdek het. Dit het ‘n direkte invloed op die amptelike ontstaan van die dorp en sy nywerheidsbedrywighede gehad. Ongelukkig was dit Stow nie beskore om die uiteindelike suksesvolle gevolge van sy ontdekking te smaak nie. Hy is vier jaar na sy groot ontdekking aan ‘n hartaanval oorlede.
‘n Graniet-obelisk is later ter nagedagtenis aan Stow op die ou Bedworth-plaas, Rietfontein, aan die Vrystaatkant van die Vaalrivier naby die Ascot-brug, opgerig. Dit is naby die plek waar hy die eerste keer steenkool in die gebied ontdek het. Sy ligaam is egter begrawe in die omgewing van Ascot-on-Vaal, waar Anton en sy vrou Annette die graf ‘n paar jaar gelede danksy Geocaching aangetref het. Geocaching is ‘n stokperdjie of realiteitspel waar deelnemers op grond van koördinate wat op die internet verskaf word, na sekere plekke of artikels in jou omgewing gaan soek.
“Ons het onlangs weer daarheen gegaan om aan ons kleinkinders te gaan wys waar die graf is nadat ons aan hulle vertel het van die diep spore wat die man in ons geskiedenis getrap het,” sê Anton. “Ons het egter met ‘n skok gesien dat een-of-ander vuilgoed die graf oopgegrou het, seker met die hoop om iets waardevol daar te kry.” Stukke beton waarmee die graf bedek was en hope grond lê nou rondom die graf. Dit is onbekend wie se verantwoordelikheid dit is om die graf te versorg. Vaalweekblad het navrae hieroor aan die Vaal Teknorama museum in Vereeniging gerig, maar kon tot dusver nie antwoorde kry nie.






