VEREENIGING. – Inwoners van Vereeniging was verlede week op hol toe dit aan die lig gekom het dat daar ’n petrol-lek in die sentrale besigheidsdistrik is.
Na ondersoek deur brandweermanne van die Emfuleni Plaaslike Brandweer ingestel is, is daar bevestig dat daar wel ’n petrol-lek is en verdere ondersoek is gedoen om die oorsprong daarvan te vind. Die reuk van petrol was veral in Unie- en Voortrekkerstrate geweldig skerp.
Luidens ’n persverklaring van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit moes omliggende vulstasies hul sertifikate indien wat bepaal dat hul die drukkingstoetse geslaag het. Een van die sewe ondergrondse tenks van die BP vulstasie in Victorialaan en Voortrekkerstraat kon egter nie die hoeveelheid petrol wat daarin gepomp word hanteer nie, en die petrol het begin lek. Volgens mnr. Stanley Gaba, woordvoerder van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, is die BP vulstasie daarvoor verantwoordelik om die probleem so vinnig as moontlik reg te stel.
Intussen is die publiek gevra om nie bekommerd te wees nie, sou iets skeefloop is al die nodige planne in plek, asook die bystand van verskeie brandweerstasies in die omgewing.



