Dodelike gif voor skool eis twee hondjies
Gesin se geliefde troeteldiere gaan kort na mekaar dood nadat hulle vermoedelik Two Step-gif ingekry het
Eerste publikasie: Vaalweekblad 14 Februarie 2018
Retha Fitchat
VANDERBIJLPARK. – Die hartseer lê nog vlak in die huis van Salomie Fourie en haar gesin van SW1 nadat hul twee hondjies, Bella en Lucy, vroeër die maand dood is. Die hondjies het kort na mekaar doodgegaan, vermoedelik weens die gif Two Step wat na bewering deur ‘n buurman op vullissakke op die sypaadjie gestrooi is om insekte en rotte te vergiftig.
Salomie se hartseer pleidooi op Facebook, pas nadat haar eerste hondjie verlede week dood is, het gelui: “Dis met groot hartseer, Bella-bok, wat ons jou groet vandag. My hart is stukkend. My kinders se hartjies is stukkend. My buurman het gif op swartsakke gesit en altwee hierdie hondjies van my het gif ingekry.”
Bella het die betrokke dag vir ‘n klein rukkie uit die erf gekom en ‘n draai buite gaan hardloop, waar sy aan die swartsakke gesnuffel het. Dit is vermoedelik toe dat sy van die uiters giftige Two Step-gif ingekry het. Die hondjie was pas terug in die huis toe sy begin braak het. Salomie het dadelik houtskoolpille vir Bella ingegee, maar sy is sowat ‘n halfuur later dood.
Die Fouries se Yorkshire terriër, Lucy, wat glad nie uit die erf was nie, het vermoedelik van Bella se braaksel in die huis ingekry en het kort daarna ook tekens van vergiftiging begin toon. Salomie het gehoop dat Lucy deurgehaal sou kon word maar sy is kort daarna ook dood.
‘n Plaaslike veearts het monsters weggestuur vir laboratoriumtoetse om vas te stel of die hondjies wel vergiftig is. Salomie beplan om ‘n saak teen haar buurman te maak indien die monsters vergiftiging aandui.
“Ons bly oorkant Pinedene Primary School en by die skool se hek staan ‘n hoop swartsakke. Ek het die buurman na ons hondjies se dood konfronteer omdat ek en my seuntjie hom laat die vorige middag gesien het terwyl hy iets op die swartsakke gooi. Hy ontken natuurlik alles, maar hy het al by ‘n vorige geleentheid gesê dat hy gif daar gooi. Ek voel dis uiters onverantwoordelik,” sê Salomie.
Sy sê die hele vergiftigingsdrama het in hul huis afgespeel omdat albei honde huishondjies was. “Wat as my kinders van die gif sou inkry? Ek het ‘n baba van 10 maande wat oral op die grond rondbeweeg. Wat sou gebeur as een van die kinders by Pinedene Primary daarmee in aanraking sou kom?” vra sy.
* Mnr. Andries Visagie, taksekretaris van AfriForum in Vanderbijlpark, wys daarop dat geen gif of enige giftige middels saam met gewone vullis weggegooi of daarin geplaas mag word, of gebruik mag word waar dit toeganklik is vir lede van die publiek nie. Voldoende bewyse gaan egter noodsaaklik wees indien Salomie die saak verder wil neem.
Verskeie Facebook-lesers het kommentaar op die voorval gelewer. Sommige sê hulle bespuit ook hul vullissakke met gif om miere en ander insekte te beheer. Nog kommentaar was dat honde nie toegelaat moet word om uit hul eienaars se erf te gaan nie, en ander het kommer uitgespreek oor die gebruik van ‘n uiters giftige stof soos Two Step op swartsakke aangesien dit algemeen bekend is dat werklose mense kos of herwinbare produkte daarin soek.
“Dit kon ‘n skoolkind of ‘n herwinnaar wees wat weens die gif gesterf het. Dan was dit moord,” het ‘n leser gewaarsku.




