Kaapse kele bly klam danksy Taljaard Taxi’s
Die bestuur en huurmotorbestuurders van Taljaard Taxi's het onlangs ‘n projek van stapel gestuur om drinkwater vir die Kapenaars in te samel.
VANDERBIJLPARK. – Die bekende Vaaldriehoekse vervoeronderneming, Taljaard Taxi’s, is nie net besorgd oor plaaslike inwoners se gerief en welstand nie. Die droogtegeteisterde Kaapprovinsie is ‘n saak wat die onderneming en sy meer as 60 taxibestuurders ook na aan die hart lê.
Die bestuur en huurmotorbestuurders het onlangs ‘n projek van stapel gestuur om drinkwater vir die Kapenaars in te samel. Honderde liter gebottelde water is op dié manier ingesamel en by verskeie aflaaipunte in Vanderbijlpark besorg.
“Ons harte gaan uit na die Kapenaars, wat die ergste droogte in menseheugenis moet trotseer. Ons hoop dat hierdie beskeie poging van ons personeel ander Valies sal aanmoedig om ook hul deel te doen om water te skenk aan ons medeburgers in die Kaap,” sê Riana Terblanche, eienaar van Taljaard Taxi’s in Vanderbijlpark.



