R80 000 skade toe toeris se motor slaggat tref
“Daar was ‘n groot plas water oor die pad en ek het spoed verminder, maar die volgende oomblik tref ek die slaggat met so ‘n harde slag dat albei lugsakke aan die regterkant ontplooi het"
Eerste publikasie: Vaalweekblad 28 Februarie 2018
Retha Fitchat
VEREENIGING. – “Die swak toestand van die Vaaldriehoek se paaie sal beslis nie beleggers lok of toeriste laat welkom voel nie.”
Só sê mnr. Anton Kruger van Nelspruit, wat verlede Woensdagaand hard met ‘n reuseslaggat op die Redanpad (M61-roete) kennis gemaak het.
Twee van sy motorbande sowel as die vellings (rims) is onherstelbaar beskadig.
Anton, ‘n siviele ingenieur, was verlede Woensdagaand van ‘n werk-afspraak in Oos-Londen af op pad na Drie Riviere in Vereeniging, waar hy by sy ma wou kom oorslaap met die plan om die volgende oggend na sy volgende afspraak in Balfour te vertrek.
Anton, wat in die Vaaldriehoek grootgeword en aan Hoërskool Drie Riviere skoolgegaan het, onthou die omgewing nog goed en het besluit om van die hoofpad af te draai en met die agterpad, bekend as die Redanpad, te ry waar die ou Ster-inryteater destyds was.
“Daar was ‘n groot plas water oor die pad en ek het spoed verminder, maar die volgende oomblik tref ek die slaggat met so ‘n harde slag dat albei lugsakke aan die regterkant ontplooi het. Albei wiele aan die regterkant was ook erg beskadig. Die gat waardeur ek is, is op sy diepste omtrent tot by my knie as ek daarin sou staan,” sê hy.
Terwyl hy langs die pad in sy motor op hulp gewag het, is nóg ‘n passasiersvoertuig deur die gat, en het ook ‘n band verloor.
‘n Groot bakkie is ook daardeur en is genadiglik skade gespaar, hoewel die gat so diep is dat dit die voertuig se trekstang geskuur het.
Anton vermoed die slaggat het ontstaan weens ‘n breë stroom rioolwater langs die pad. “Dit kan ‘n pypbreuk wees of ‘n pompstasie wat nie werk nie, want die hele veld in die omgewing is toe onder stinkende rioolwater. Hierdie probleem het nie gister ontstaan nie. Dit moes oor verskeie weke of maande ontwikkel het sonder dat daar aandag aan gegee is,” sê hy. Anton sê dit is nie net die skade van R80 000 aan sy Volkswagen Tiguan wat hier ter sprake is nie.
“Dit was ‘n skrikwekkende ervaring. ‘n Mens kan jou lewe verloor as jy in die nag alleen hier gestrand raak. Die ongeluk het ook soveel nagevolge. Die twee dae daarna moes ek dringende werk opsy skuif om reëlings vir die kar se herstel te tref.
“Ek ry gereeld dwarsoor die land rond en kan dorpe se paaie met mekaar vergelyk. Ongelukkig moet ek sê dat Emfuleni se paaie van die swakste is wat ek nóg teëgekom het,” sê Anton.






