VANDERBIJLPARK. – Die sakeman van Vanderbijlpark en eienaar van Gauteng Rigging, Tony Farina, het vanoggend 10:51 by die polisie op Vanderbijlpark ingestap om homself te gaan oorgee.
Farina was die bestuurder van die Hyundai H1 wat Vrydagmiddag 16 Maart ongeveer 17:38, Berndine Luther (13) en haar nefie Gerhard Geyer (16) raakgery het en Dillon Brits (17), vriend van Gerhard rakelings gemis het op die sypaadjie in Langehovenstraat. Farina is gearresteer en die polisie is tans besig om die saak te prosseseer. Frarina verskyn môre 20 Maart in die hof.
Die polisie en publiek het die naweek onverpoosd na die skuldige gesoek nadat hy van die toneel af weggejaag het. Die publiek het op CCTV materiaal die voertuig geïdentifiseer en sosiale media het gegons met foto’s en aanmerkings. Aanvanklik is na ‘n Mercedes Benz Vito of Renualt gesoek wat op vorige CCTV materiaal beskikbaar was.
Gerhard se pa, Harduz Geyer, wat werk by Turbo Motors ‘n ent verder af in Langenhovenstraat, het laat Sondagmiddag op hul CCTV kamera’s beter foto’s van die voertuig aan die pers en sosiale media beskikbaar gestel. ‘n Werknemer van die verdagte het bevestig dat sy die verdagte voertuig herken het en dat dit Farina was wat later, volgens inligting bekend, erken het dat hy die kinders raakgery het en hom Maandagoggend (vandag) aan die polisie sou oorhandig.
Terselfdertyd het Kaptein Blackie Swart en A/o Nieuhoff Sondagaand 18Maart ook die verdagte geïdentifiseer deur ander kontakte. Farina het die polisie ingelig dat hy homself sal kom oorhandig. Farina het egter eers ‘n prokureur genader en toe later by die Vanderbijlparkse polisiestasie aangemeld. Hy staar ‘n hele aantal klagtes in die gesig, onder andere die versuim om by ‘n ongelukstoneel te stop, asook die versuim om ‘n ongeluk dadelik aan te meld.
VIR MEER FOTO’S EN VOLLEDIGE BERIG: LEES VAALWEEKBLAD WOENSDAG 21 MAART.




