Groot atletiek op DP de Villiers
SASOLBURG. – Atletiek-liefhebbers kan solank naderstaan want eerskomende Dinsdagaand gaan daar groot atletiek op die DP de Villiers-stadion plaasvind. Die vyfde jaarlikse NWU-Sasol Senior Internasionale Atletiekbyeenkoms skop om 17:00 af en beloof om atletiek uit die boonste rakke op te lewer. Van Suid-Afrika se top-atlete soos Julia du Plessis (hoogspring), LJ van Zyl (400m-hekkies), Chris …

SASOLBURG. – Atletiek-liefhebbers kan solank naderstaan want eerskomende Dinsdagaand gaan daar groot atletiek op die DP de Villiers-stadion plaasvind.
Die vyfde jaarlikse NWU-Sasol Senior Internasionale Atletiekbyeenkoms skop om 17:00 af en beloof om atletiek uit die boonste rakke op te lewer. Van Suid-Afrika se top-atlete soos Julia du Plessis (hoogspring), LJ van Zyl (400m-hekkies), Chris Harmse (hamergooi), Lizie Hanekom (400m-hekkies) Pieter Conradie (400m), Jerry Mottau ( 5 000m), Clarens Monjue (200m) en Rynhardt van Rensburg sal in aksie wees.
Daar gaan ook ‘n internasionale geurtjie wees met atlete van Qatar, Zimbabwe, Botswana, Frankryk, Poland, Latvië, Zimbabwe, Tjeggiese Republiek en Slowakië wat gaan deelneem. Die items wat op die byeenkoms gaan plaasvind, is: 100m, 400m, 800m, 1 500m, 3 000m, 400m-hekkies, 110m-hekkies, 100m-hekkies, hamergooi, diskus, spiesgooi, hoogspring vir vroue, paalspring en verspring vir vroue.
Internasionale sterre wat litte hier gaan losmaak sluit die Poolse-paalspringer, Piotr Lisek, in. Hy het al oor die 6m gespring en beloof om die skare op die punt van hulle stoele te hou. Die borge vir byeenkoms is: Sasol, NWU, Rejuvenation Community Trust en NWU se High Performance Centre.




