VANDERBIJLPARK. – “Ons familie is absoluut getraumatiseer. Eers moes ons die nuus oor ons suster se dood verwerk, en toe moes ons vasstel dat dit nie haar liggaam in die doodskis is nie, maar ‘n bebloede swartman!”
So sê ‘n ontstelde me. Debbie Swanepoel nadat haar suster, Sharon Glaus (51), wat in Junie in die De Deur-omgewing gesterf het, se liggaam deur ‘n personeellid by die Sebo-keng-lykshuis omgeruil en na Tosca in die Noordwes-provinsie gestuur is.
Hoewel die familie aanvanklik by ‘n lid van die publiek verneem het dat Sharon vermoor is, is met ‘n amptelike lykskouing bevind dat sy aan natuurlike oorsake gesterf het.
Volgens Debbie het Sharon ‘n veelbewoë lewe gehad: sy was as jong meisie ‘n pragtige model, het getrou en drie kinders gehad en by die weermag gewerk, maar haar lewe het mettertyd heeltemal ontspoor. Sy is geskei, het 13 jaar gelede kontak met haar familie verbreek en het ‘n eensame sukkelbestaan in die Vaaldriehoek kom voer. Sy was by tye ‘n karwag en het ook ander los werkies gedoen om te oorleef.
Nadat Debbie en hul broer, pastoor David Bisset van Tosca, van Sharon se dood verneem het, het hulle na Vanderbijlpark gereis om haar lyk in die Sebokengse lykshuis te kom uitken.
“Daar was ontsettend baie dokumentasie om in te vul. Die personeel het gesê dit is om seker te maak dat lyke nie omgeruil word nie en dat die regte liggaam wat ons uitgeken het as dié van ons suster, vervoer kan word vir die begrafnis,” sê Debbie.
‘n Familievriend het die liggaam, wat toe reeds in ‘n uitgesoekte kis geplaas is, op 30 Junie kom haal vir die reis Tosca toe.
“Toe die lyk dáár by die lykshuis opdaag en hulle die kis in die teenwoordigheid van my broer oopmaak, het ‘n horrible sight op hom gewag. Dit was nie Sharon se lyk in die kis nie, maar dié van ‘n onbekende swartman. My broer is in ‘n absolute skoktoestand en ons kry albei steeds nagmerries oor die voorval,” sê Debbie.
Debbie en haar broer het die lang pad terug Vanderbijlpark toe die volgende dag aangepak om die swartman se lyk terug te besorg, siende dat die begrafnis gereël was vir 1 Julie en die familie nie 2 tot 4 weke kon wag vir die staat om haar lyk Tosca toe te neem wanneer die ondersoek afgehandel sou wees nie. Die dubbelryery het baie ekstra koste meegebring en boonop moes hulle uit respek vir hul suster, ‘n nuwe kis koop omdat hulle haar nie in ‘n kis wou begrawe waarin ‘n ander lyk reeds gelê het nie. Die totale uitgawes vir die vervoer en begrafnis beloop reeds digby R45 000. Die familie moes lenings aangaan om die koste te help dek en beplan nou om ‘n saak teen die staat te maak om die koste te dra.
“Die emosionele skade wat hierdie voorval aan ons gedoen het, is enorm, en dit net omdat ‘n personeellid van die lykshuis nie sy werk gedoen het en die nodige prosedures gevolg het nie. Ons verwag dat die staat ons moet vergoed en ons eis dat iemand vir die fout aanspreeklik gehou word,” sê Debbie.Wyle Sharon het intussen ‘n laaste rusplek in Tosca gevind, waar haar broer die afgelope jare ‘n pastoor is. Die liggaam van mnr. Elliot Khoza (39) wie se lyk foutiewelik na Tosca gestuur is, is intussen glo opegeëis deur sy eie familie.



