Bure se byt is toe erger as Bia se blaf
‘n Inwoner van Vaalpark het oorlog verklaar teen ‘n jong Weimaranerteef, Bia, omdat sy glo te veel geblaf het
Vaalweekblad – 11 April 2018
Retha Fitchat
VAALPARK. – ‘n Inwoner van Vaalpark het oorlog verklaar teen ‘n jong Weimaranerteef, Bia, omdat sy glo ‘n nagskofwerker wakker geblaf het.
Bia, wat aan die Pieterse-gesin van Rochervillestraat, Vaalpark behoort, is op 13 Maart met ‘n koeëlwond naby haar nek, hoog teen haar linkerskouer, deur haar eienaars aangetref.
“Ons is nie mense wat wil baklei nie en soek nooit moeilikheid met mede-inwoners van ons omgewing nie.
“My honde is huishonde wat by ons in die huis slaap en nooit snags blaf nie. Inteendeel, Bia slaap snags tussen my en my man,” sê Marcha Pieterse, Bia se eienaar.
Die Pieterses het ook ‘n jong Weimaranerreun en ‘n bejaarde spanjoel.
Marcha erken dat haar honde blykbaar wel soms blaf wanneer sy haar dogter van 10 jaar soggens skool toe neem, maar omdat sy van die huis af werk, kan sy die res van die tyd seker maak die honde is stil en steur niemand nie. Nie een van haar onmiddellike bure het al ooit oor die honde gekla nie.
“Nadat my honde een oggend weer geblaf het terwyl ek weg was, het ‘n ontevrede dame elders uit ons omgewing gebel om te sê my honde het haar man, wat nagdiens gewerk het en die oggend wou slaap, wakker geblaf.
“Sy het toe gesê as ek nie ‘n plan met my honde maak nie, sal sy self ‘n plan maak. Ons het na ‘n opname op ons geslotekring-videokamera gekyk en vasgestel dat my honde die oggend nie langer as ‘n minuut geblaf het terwyl ek weg was nie,” sê Marcha.
“Toe ek op 13 Maart by die huis kom nadat ek weer my dogtertjie skool toe geneem het, het ek gesien Bia lê net en lyk nie lekker nie. Toe ek aan haar vryf, was daar net bloed. Ons het vasgestel dis ‘n skietwond. Daar was ook ‘n koeëlmerk teen ons palissade.
“Die veearts kon ons eers 16:00 die middag sien, waarna x-strale van Bia onder volle narkose geneem is. Die veearts het vasgestel dat die .177-windbukskoeël naby haar hart vasgesteek het. Dit kan nie verwyder word nie omdat so ‘n delikate operasie Bia se lewe kan kos. Sy het nou reeds twee kursusse antibiotika gekry en maak goeie vordering, maar ons weet nie of die koeël wat steeds in haar liggaam is, mettertyd infeksies of verdere probleme kan veroorsaak nie,” sê Marcha.
Die Pieterses moes buiten die koste van die duur kursusse antibiotika ook R1 800 vir Bia se x-strale betaal, maar hulle sê dis ‘n klein prys vir die welsyn van hul geliefde “hondekind”.
“Ons het ‘n ooggetuie wat die skieter oorkant ons huis voor ‘n onbewoonde eiendom gesien het, maar ons wil die ooggetuie nie by die saak betrek nie.
“My groot vrees is net dat my dogtertjie eendag by die huis gaan kom en op ‘n dooie hond gaan afkom. Of nog erger, dat een van my huismense dalk volgende keer getref kan word. Ons hoop die skieter hou dit in gedagte,” sê Marcha.
Die polisie is bewus van die voorval en waarsku dat dit onwettig is om met ‘n windbuks in ‘n beboude of openbare gebied te skiet. Indien ‘n persoon hieraan skuldig bevind word, kan hy of sy permanent onbevoeg verklaar word om enige vuurwapen te besit.





