Dag van angs toe kleuter ontvoer word

Vir ‘n Vanderbijlparkse ouma en oupa was dit die nagmerrie van hul lewe toe hul kleinseun in September 1985 by ‘n haarsalon deur ‘n vreemde man gegryp en ontvoer is.

Vir ‘n Vanderbijlparkse ouma en oupa was dit die nagmerrie van hul lewe toe hul kleinseun in September 1985 by ‘n haarsalon deur ‘n vreemde man gegryp en ontvoer is.
Die tweejarige Danie Erasmus, wat die dag by sy grootouers gekuier het, is die betrokke Vrydagoggend saam met sy ouma, mev. Marie Erasmus, na ‘n haarsalon in Kolonel Gordonstraat, SE7.
‘n Afrikaanssprekende man het by die salon ingestap en verneem hoeveel ‘n haarsny sou kos. Die volgende oomblik het hy onverwags omgedraai, klein Danie gegryp en met hom by die deur uitgehardloop.
“Die seuntjie se koppie het met ‘n verskriklike slag teen die deurkosyn geklap toe die man met hom onder die arm by die salon uitstorm,” het ‘n geskokte vrou wat ook ten tyde van die voorval in die salon was, aan Vaalweekblad vertel.
Die vrou het die vlugtende man met nat kop en al agtervolg en sy sou hom waarskynlik kon inhardloop as dit nie vir haar hoëhakskoene was nie. Sy was sowat drie meter van die man af toe hy die seuntjie in sy motor prop, die deure blitsig sluit en wegjaag.
‘n Kafee-eienaar in dieselfde winkelkompleks het die kabaal gehoor en besef dat daar groot probleme was. Hy en ‘n werknemer het dadelik in sy motor gespring en die ontvoerder agternagesit, maar hom in die omgewing van die Kemptonpark-afrit verloor.
‘n Afgetrede polisiekolonel wat ook in die omgewing van die winkel was, het intussen van die voorval gehoor en dadelik die polisie geskakel, wat onmiddellik ‘n groot soektog op tou gesit het. ‘n Dag van onbeskryflike angs en paniek het gevolg terwyl daar wyd-en-syd na die seuntjie en sy ontvoerder gesoek is. Dit was eers laat die aand dat die goeie nuus aan klein Danie se gesin en grootouers oorgedra kon word: Hy is gevind en was veilig by die Blinkpan-polisiestasie naby Middelburg, waar hy uitgeput maar ongedeerd onder ‘n polisiekombers aan die slaap geraak het. Die Erasmus-gesin het die polisie en veral die speurtak geloof vir hul uitmuntende optrede. “Ons sal so ‘n voorval nie aan ons grootste vyande toewens nie,” het die ouma agterna oor hul beproewing gesê. ‘n Man is na die voorval op grond van menseroof en ontvoering in hegtenis geneem maar dit is onbekend wat sy motief was, en of hy skuldig bevind en gevonnis is.

Related Articles

Check Also
Close
 
Back to top button