Opkikkerbom bars om Vaal-bokskoning se kop
VANDERBIJLPARK. – ‘n Opkikkerbom het om die kop van Ruann Visser, die nuut gekroonde SA Swaargewigbokskampioen, se kop losgebars nadat hy na bewering positief vir die gebruik van die anaboliese steroïde Stanazolol getoets het. Volgens ‘n berig wat vandag in die Sowetan verskyn het, het die Suid-Afrikanse Instituut vir Dwelmvrye Sport (Saids) die nuus …

VANDERBIJLPARK. – ‘n Opkikkerbom het om die kop van Ruann Visser, die nuut gekroonde SA Swaargewigbokskampioen, se kop losgebars nadat hy na bewering positief vir die gebruik van die anaboliese steroïde Stanazolol getoets het.
Volgens ‘n berig wat vandag in die Sowetan verskyn het, het die Suid-Afrikanse Instituut vir Dwelmvrye Sport (Saids) die nuus Maandag bekendgemaak dat die 27-jarige Vaaldriehoeker voorlopig van enige mededingende boks geskors is.

Visser is op 23 Februarie in Vanderbijlpark by die Emerald Casino as die Suid-Afrikaanse Swaargewigkampioen gekroon toe hy Osborne Machimana in die sewende rondte uitgeslaan het. Visser moes daarna ‘n opkikkertoets ondergaan.
Visser was veronderstel om eerskomende Vrydagaand weer by die Emerald Casino te boks, maar die hele toernooi is tot 11 Mei uitgestel. Volgens Nefdt Visser, Ruann se pa en bestuurder, het hulle reeds ‘n B-monster laat toets en kundiges se advies ingewin om Ruann se onskuld te bewys.
“Ons is 100 persent oortuig dat Ruann onskuldig is. Ons wil so gou moontlik ‘n verhoor hê, sodat ons sy onskuld kan bewys,” het Nefdt Visser, by navraag gesê.



