BlogsOpinions

Roekelose vermorsing stuur af op waterramp

Die Department van Waterwese het onlangs hul Waterweek geloods, waartydens die belangrikheid van waterbewaring beklemtoon is. Die tema van die veldtog was: “Wat as dit die laaste druppel was?”

Die Department van Waterwese het onlangs hul Waterweek geloods, waartydens die belangrikheid van waterbewaring beklemtoon is. Die tema van die veldtog was: “Wat as dit die laaste druppel was?”
Talle Suid-Afrikaners in landelike gebiede is reeds by daardie punt verby en draai tans vergeefs hul krane oop, want die water is gedaan. Dit is in baie gevalle nie net weens die droogte nie maar ook weens wanbestuur van waterbronne, nie-betaling vir water en watervermorsing weens ‘n gebrek aan noodsaaklike onderhoudswerk aan die bestaande infrastruktuur.
Daar word geraam dat tussen 50 en 70 persent van ons land se vars water verlore gaan weens gebarste pype, wanfunksionerende pompe, stukkende krane en ‘n algemene roekelose gebruik van water.
Die wêreldwye “aanvaarbare” persentasie vir dié “sondes” is 30%, wat veel laer is as wat tans die geval in Suid-Afrika is.
Tesame met hierdie watersorge is daar ook die afname in deeglike behandeling van afvoerwater. Sowat die helfte van ons land se afvoerwater-aanlegte funksioneer onder die gemiddelde standaarde. ‘n Derde hiervan het reeds ‘n kritieke laagtepunt bereik. Ons vars water word ernstig bedreig – en vars water is nodig om besoedeling en rou riool wat in ons damme en riviere beland, weg te spoel. In gewone taal beteken dit: vuil water kan nie met vuil water weggespoel word nie.
Te midde van hierdie bedreigings hoor Vaalweekblad week-na-week van gebarste pype in die Vaaldriehoek, waar water na hartelus uitstroom sonder dat die munisipaliteit werk daarvan maak.
Water stroom byvoorbeeld reeds agt weke uit ‘n gebarste pyp in Herman Eksteenstraat, digby Vaal High School in SW1, Vanderbijlpark. Munisipale werkers het wel weke gelede, toe die probleem deur inwoners aangemeld is, ‘n sloot kom grawe om die probleem te ondersoek, maar aan inwoners is gesê hulle sal maar self vir die strome vermorste water moet opdok omdat Emfuleni nie die nodige toerusting het om die pyp reg te maak nie.
Toe een van die inwoners onlangs weer die munisipaliteit skakel om te verneem wanneer daar verder aandag aan die lekkende pyp gegee gaan word, is sy vinnig deur ‘n munisipale amptenaar tereggewys omdat sy so “cheeky” is om te verwag dat die probleem dringend opgelos moet word.
Inwoners rapporteer dat daar ook meer as een gebarste pyp in Mumfordstraat is waar vars water onophoudelik uitstroom. Ook hier word skynbaar geen poging aangewend om die pype reg te maak nie.
Vaalweekblad kon tot dusver nie reaksie by Emfuleni oor hierdie watervermorsing kry nie. Hoewel die lekkasies nie in raadslid James Wright van die DA se wyk val nie, het hy onderneem om die probleme met die munisipale subkomitee vir Water en Sanitasie op te neem. Vaalweekblad vertrou dat ons binnekort meer positiewe terugvoer hieroor sal kan gee.

Related Articles

Check Also
Close
 
Back to top button